Oom Paul Stipp is vanjaar uiters beïndruk met sy hanekam-blomme.
Oom Paul plant al die afgelope 52 jaar blomme by sy huis in Barrystraat.
“Sedert ek hier kom woon het, plant ek elke jaar blomme – behalwe in 2020. Ek het verlede November weer blomme geplant,” verduidelik hy.
Hy meen ook vanjaar is die eerste keer dat sy hanekamme so mooi in sy tuin pronk.
“Dis die eerste jaar dat hulle so mooi lyk. Ek is baie verbaas dat hulle almal sulke dik stamme het en onder so breed is.”
Dié 83-jarige het ’n regte passie vir blomme en het gewis groenvingers.
“Ek geniet dit om blomme te plant en om in die tuin te werk. Ek werk gewoonlik die meeste van my dag in die tuin, maar dis meestal omdat ek die voëls van die blomme af moet weghou. Hulle vreet alles.”
Wanneer dit kom by sy gunsteling-blom, kan hy nie juis kies nie.
“Blomme is vir my almal mooi; ek kan nie kies watter een is my gunsteling nie,” bieg hy.
Hy sê egter ook hy weet nie of hy weer blomme gaan plant nie.
“Ek geniet dit wel, maar ek raak nou oud en my rug kan dit nie meer aldag hou nie. Ek begin nou sukkel om uit die tuin op te staan. Hier’ niemand wat my help nie.”