’n Idee wat aanvanklik in daardie stadium as die enigste opsie vir ’n uitweg uit algehele armoede was, gee nou hoop vir ander.
Braam Dawson (37) van Abbotsdale buite Malmesbury vertel meer oor ’n donker tyd in sy en sy vrou Jamie (36) se lewe ná meer as ’n jaar van werkloosheid sonder enige inkomste.
Braam, ’n professionele vragmotorbestuurder van beroep, kon vir langer as ’n jaar nie werk kry nie. Hy het niks in die bank gehad nie en hulle het nie geweet waar elke aand se kos vandaan sou kom nie. Selfrefleksie op die rooi bank op hul stoep, wat uitkyk oor die lande, het Braam in staat gestel om sy gedagtes te laat gaan. Hy het op 10 Januarie vanjaar ’n denkbeeldige toer deur die dorp Malmesbury onderneem om te dink waar hy nog kan aansoek doen vir werk toe hy op die lang ry mense op die sypaadjie langs die gebou van die departement van binnelandse sake kom.
Daar en dan het hy geweet hier is moontlike potensiaal vir ’n inkomste.
Nog voordat hy die idee met sy vrou kon deel, het Braam voelers op sosiale media uitgesteek. Hy het sy idee in ’n plasing gedeel om te hoor of mense wat binnekort ’n besoek by die departement moet aflê, maar nie kans sien vir die lang rye nie, belangstel.
Mense het inderdaad belanggestel.
Q4U is gebore en drie besprekings is reeds vir die volgende dag gedoen.
Aan die begin het Braam, sy broer en Jamie self in die ry gaan staan om plek vir hul nuwe kliënte te hou. Toe hulle gou vyf besprekings per dag begin kry, het hy twee werklose enkelma’s uit hul plaaslike gemeenskap genader om te hoor of hulle sou belangstel om vir ’n inkomste namens ander in ’n ry te gaan staan totdat die deure om 08:00 die oggend open. Dié geleentheid is met groot opgewondenheid aangegryp.
Skaars twee weke nádat Q4U begin is, het Braam ’n werk gekry. Hy en Jamie het toe besluit om die inisiatief om ander te help, verder te neem nadat hulle besef het hoe baie werklose inwoners in die dorp is.
Q4U het deesdae vyf permanente en vyf deeltydse werknemers in diens, wat nou brood op die tafel kan sit. “Ons was in Januarie nog platsak. Nou gaan dit nie meer oor ons nie, maar om ander wat in eenderse omstandighede sit, te help,” vertel Braam. Hy en Jamie het op die tweede dag nadat een van die vroue vir hulle begin werk het, ervaar watter verskil hulle in dié ma se lewe gemaak het toe sy ’n boksie melk vir haar baba se pap kon koop.
Q4U neem in hierdie stadium nie meer as tien besprekings per dag nie. Hulle staan ook 65% van die algehele fooi aan die persoon wat in die ry gestaan het, af.
“Ons het nou ook ’n ouer vrou wat nie ’n sent gehad het nie en nou só werk,” brei hy uit. Die Q4U-personeel sluit verder twee studente in wat nou hul vervoer terug huis toe met ’n geruste hart kan bekostig.
Baie mense het die Dawsons intussen vir werk genader, hoewel hulle nie nou al meer as tien mense kan gebruik nie.
“Ons het nog nie ons eie vervoer nie en huur daagliks ’n klein bakkie teen R200 om die mense soggens af te laai en weer terug huis toe te neem,” vertel Jamie.
Q4U het intussen ’n bestuurder aangestel wat die mense vervoer en reël. Dit is slegs drie maande later en dié diens loop reeds soos ’n glad geoliede masjien wat ’n professionele stelsel en proses gebruik. Hoewel die Dawsons glad nie meer self met die mense werk nie, bestuur Jamie alle besprekings en betalings uit haar kantoor by die huis, vanwaar sy ook haar opkomende konstruksiemaatskappy bedryf.
Die mense wat plek hou, is in die warmer dae reeds so vroeg as 02:30 afgelaai, hoewel hulle dit nou ’n bietjie later begin maak het as gevolg van die koeler weer. “Die kliënte neem om 07:15 hul plek in. Sodra die deure om 08:00 open, kan kliënte binne 20 minute terug keer werk toe,” vertel Jamie, wat om 05:30 reeds op háár pos is. Sy het ’n bestuursagtergrond en geniet dit baie om met hul kliënte te werk. Mense van so ver soos China, Engeland, Mosambiek en Namibië het reeds by Q4U bespreek, vertel sy opgewonde. Hulle is ook reeds tot Junie vanjaar vol bespreek.
Die onderneming genereer nie sakke vol geld nie, sê Braam, en vir nou is hul hoofdoel om werk te skep. “As ons tien mense kan help, is dit klaar genoeg. Dit gaan goed met ons. Sodra jy ander help, sal die Here jou help.”
Hy voeg ook by dat sy suster, Shalika Cloete, sy steunpilaar is en hulle voorheen al baie uitgehelp het. Hy sal haar ewig dankbaar wees.
Die Dawsons hoop om binnekort amptelike toestemming van die nasionale departement van binnelandse sake te kry sodat hulle kan voortgaan met werkskepping. Hulle het ook reeds ander planne, wat dié toustaan-entrepreneurs baie opgewonde oor die toekoms maak.