Die Titans-netbalklub hou op 16 Junie ’n sportdag om Jeugdag te vier.
Die klub is verlede jaar in Januarie gestig.
“Die twee sussies Candice en Claudia het verlede jaar die klub gestig. Aanvanklik was eers net familie betrokke, maar later het dit uitgebrei. Hier was reeds ’n ander klub in Robertson, maar die idee is om netbal nog groter in Robertson te maak en om ook ’n kans aan meer meisies te gee om hul liefde vir die sport uit te leef,” verduidelik Luzan Pietersen, die klub se kassier.
Die sportdag-idee was Pietersen se dogter se idee, wat ook deel van die Titans-netbalklub is.
“Dit was my dogter, Tiané, se idee om ’n sportdag met die skole se netbalspanne asook ander klubs in en om Robertson te reël. Ons doel is om net ’n lekker sportdag te reël waar kinders hulself op Jeugdag kan kom geniet” sê sy.
Die klub nooi ook alle netbalspelers uit om by hulle aan te sluit.
“Enigeen wat netbal speel, kan by ons kom aansluit. Ons is oop vir alle ouderdomme.”
Die klub maak tans gebruik van die munisipale sportterrein om te oefen en moet ’n fooi daarvoor betaal.
“Dit is ons grootste uitgawe en ons het geld nodig sodat ons die geriewe aanhou kan gebruik om twee keer per week daar te oefen. Ons betaal tans R126 per aand om te oefen. Ons verwelkom enige skenkings, want ons wil so veel as moontlik oefen om ons spanne voor te berei.”
Vir meer inligting oor die sportdag of om betrokke te raak by die klub, kan die voorsitter, Claudia Joseph, by 081 800 3710 gekontak word. Om in te skryf vir die sportdag op 16 Junie, kan Tiané Pietersen by 072 256 7512 of tianepietersen@gmail.com gekontak word.