Titaniese stryd herrys: Malmesbury t. Moorreesburg in ’n historiese kragmeting te sien

Die Swartland-rugbyklub en die Moorreesburg-rugbyklub het op Dinsdag 13 Mei by die Hoërskool Swartland se A-veld, waar die stryd eersdaags op 17 Mei aangesê word, byeengekom. Van links staan Louis de Villiers (Moorreesburg-rugbyklub se hoofafrigter), Attie Engelbreght (Moorreesburg-rugbyklub se kaptein van die 2de span), Human carstens (Moorreesburg-rugbyklub se kaptein van die 1ste span), Damian Burns (Swartland-rugbyklub se kaptein van die 1ste span), Zander Wucherpfennig (Swartland-rugbyklub se kaptein van die 2de span), Janco Schutte (Swartland-rugbyklub se hoofafrigter), en Melvin Garisch (Swartland-rugbyklub se assistent-afrigter).

In ’n legendariese kragmeting wat tradisie en trots uitstraal, staan twee van die Weskus se mees ikoniese rugbyklubs gereed om mekaar die stryd aan te sê in wat beloof om ’n onvergeetlike belewenis te wees. Die nuutgestigde Swartland-rugbyklub en Moorreesburg-rugbyklub — vurige mededingers en trotse verteenwoordigers van hul gemeenskappe — sal mekaar die stryd aansê in ’n historiese wedstryd wat oor veel meer as die telbord gaan. Dit is nie net ‘n wedstryd nie, maar eerder ‘n gebeurtenis tussen twee spanne waar erfenis, passie en die volgehoue gees van plaaslike klubrugby gevier sal word.

Die stigting van die Swartland-rugbyklub kom nadat drie vriende van Malmesbury verlede jaar die ongelooflike atmosfeer en aansteeklike gees onder die gemeenskap van Porterville ervaar het toe hulle besluit het om vir dié klub uit te draf.

Die tasbare gees rondom klubrugby het Janco Schutte, Charlie Gerber en Estean Herman geïnspireer om Swartland-rugbyklub aan die begin van 2025 tot stand te bring.

Sedertdien is daar geen einde aan die dinamiese bestuur van die klub wat intussen tot agt lede gegroei het nie.

Volgens Schutte is die Swartland-rugbyklub gevestig vir die mense van Malmesbury wat alle inwoners die geleentheid bied om lekker rugby in ‘n veilige, inklusiewe en sosiale omgewing te speel. “Dis meer as ‘n klub, dis ‘n gemeenskap,” meen die bestuur wat verder bestaan uit Dawie Horn, Patrys Bester, Damian Burns, Melvin Garish en Evert Pienaar. Die gewilde rugbyderby tussen Malmesbury en Moorreesburg het oor die jare heen op verskillende wyse plaasgevind. Vanjaar is dit egter die eerste jaar waar albei dorpe se rugbyklubs in die Rugga-liga speel, ‘n liga waarin die klubs nog nooit mekaar die stryd aangesê het nie.

Die wedstryd vorm nie net deel van ‘n ou tradisie nie, maar ‘n nuwe hoofstuk vir rugby in die Swartland, verduidelik hulle verder. Inwoners en rugby-entoesiaste word uitgenooi om hul klub se spelers die komende naweek te kom ondersteun.

“Vir dekades was hierdie derby een van die hoogtepunte op die plaaslike sportkalender. Families het hul plekke op die pawiljoen gehad, jong seuns het met dromerige oë na die spelers op die veld gekyk en teenstanders het blad geskud oor ‘n koue bier ná die eindfluitjie geblaas het.”

Die bestuur herhaal dat dit nie hier gaan oor wen nie, maar eerder daaroor om deel te wees van iets groter as jouself.

Die silwer wisseltrofee, die Ou Vat-wisseltrofee, wat jare lank sy pad tussen die twee dorpe gevind het, is die komende Saterdag weer op die spel.

Die trofee spreek tradisie, trotse herinneringe en gemeenskapsgees eie aan die Swartland aan. “Elke speler wat vir hierdie trofee op die veld uitdraf, weet hy speel nie net vir punte nie – hy speel vir sy mense.” Volgens die bestuur word daar nie bloot teruggekeer veld toe nie. Die derby simboliseer ‘n nuwe begin. “En elke persoon op die pawiljoen, elke toeskouer wat kom kyk, is deel van daardie storie. Kom ondersteun die rugbyderby tussen Swartland-rugbyklub en Moorreesburg-rugbyklub en kom maak geskiedenis. Dis nie net rugby nie — dis ons storie.”

Die derby skop dié Saterdag (17 Mei) om 16:15 by Hoërskool Swartland se A-rugbyveld af.

Swartland-rugbyklub:

Kaptein van die 1ste span: Damian Burns

Kaptein van die 2de span: Zander Wucherpfennig

Hoofafrigter: Janco Schutte

Assistent-afrigters:

Melvin Garisch

Estean Herman

Moorreesburg-rugbyklub:

Kaptein van die 1ste Span: Human Carstens

Kaptein 2de Span: Attie Engelbreght

Hoofafrigter: Louis de Villiers

Die kapteine van Moorreesburg (links) en Swartland (regs se )rugbyklubs kry ‘n beurt om die Ou Vat-wisseltrofee vas te hou, voor een van daardie spanne die trofee na Saterdag se wedstryde omhoog hou.

You need to be Logged In to leave a comment.