MOORREESBURG – ’n Groepie van 12 leerders van skole uit die omgewing het Saterdag na Blankenburg in Duitsland vertrek, waar hulle vir ’n paar dae aan ’n jeugkamp gaan deelneem.
Dié opgewonde leerders het die laaste week van die skoolvakansie gebruik om hulle voor te berei vir die kamp.
Tydens hul besoek sal hulle kennis maak met jongmense van ander lande. Die seuns en dogters se ouderdomme wissel van 14 tot 17 jaar.
Faith Blanckenberg van Piketberg, een van die leerders wat die toer meemaak, sê sy is baie opgewonde oor die vooruitsig.
“Ek beskou dit as ’n voorreg om te gaan en om leerders van ander lande te ontmoet. Ek hoop die besoek sal my denke en visie help verbreed.”
Maulisha Markus, van Riebeek-Wes, sê sy is opgewonde, maar ook bietjie skrikkerig om vir die eerste keer so ver te vlieg. “Ek sien daarna uit om nuwe vriende te ontmoet en die besoek sal beslis ’n lewenservaring wees om te onthou.”
Die doel van die kamp is om verdraagsaamheid tussen kulture aan te moedig, leierskap te ontwikkel, leerders se visie te verbreed en ’n gevoel van verantwoordelikheid te kweek.
Die samewerkingsooreenkoms tussen die Weskus en die organisasie, die Landesverband Kinder-und Jungenderholungszentren (KIEZ), in Duitsland, is in 2014 onderteken.
Volgens die groepleier, Melonice Blanckenberg, bestuurder sosiale ontwikkeling by die Weskus, sal die leerders tydens die toer ook besoek bring aan die Moses Mendelssohn Filosofie Akademie, sowel as die Duitse literêre museum in Halberstadt.
Hulle sal ook ’n werksessie oor emosionele intelligensie en adolessensie bywoon.
’n Besoek aan UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation) en kultuurerfenis stad Quedlinburg is ook op die program.
Saam met Blanckenberg sal die leerders vergesel word deur Lorraine Cornelius en Myrtle van Heerden van Goedverwacht