’n Tiener van Sir Lowry’s Pass het die liefde wat hy vir musiek het en sy toegewyde diens aan die Here vasgevang deur ’n CD bekend te stel met minstens vyf van die liedjies op die CD wat hy self geskryf het.
Deeolen Quinton Brits is ’n ware “son of the soil”. Hy is ’n Helderberg-boorling wat sy skoolloopbaan by Sir Lowry’s Pass Primêr voortgesit en aan Hoërskool Hottentots Holland matrikuleer het.
Hy is tans besig met sy studies in BA Geesteswetenskappe (sielkunde) aan die Universiteit Stellenbosch.
Deeolen onthou die kerk wat hy bygewoon het toe hy agt jaar oud was, het ’n Kersspel aangebied en hy het tydens repetisies ’n solo-vertoning gekry om op te voer.
“Ek het toe nie geweet ek kan sing nie, maar met ons optrede het ek besef ek het eintlik sangtalent. Ek het kort daarna by konserte, begrafnisse en troues begin sing. Ek het op negejarige ouderdom ’n CD met twee liedjies vir Moedersdag bekendgestel, en sedertdien het my selfvertroue net gegroei.”
Nou, as 18-jarige, sluit Deeolen se regstreekse optredes dié van ’n konsert vir gestremdes in Kaapstad in. Hy spog ook met die feit dat hy al ’n verhoog met bekende Gospel-sangers soos Joshua Jansen, Charisma Hanekom en Colin Mitchells gedeel het en ook al op die bekende Kruiskyk TV opgetree het.
Oor sy mees onlangse musiek sê Deeolen die gospel-album is deur sy vermoë om sy eie musiek te skryf, geïnspireer.
“Ek is gevra om op ’n regstreekse uitsending van Kruiskyk te sing en my ma, Arlene, het my aangemoedig om my eie liedjie te skryf, wat ek in net ’n paar minute gedoen het. Ons het dit opgeneem en dit was ’n groot sukses, en dit het my net gemotiveer om my eie album op te neem.”
Hy het in 2021 met die album begin en dit het sowat sewe maande geneem om te voltooi.
“Ek sing altyd om mense te inspireer en om hoop te gee. My ma sê vir my om net mooi te sing, is nie genoeg nie; ek moet dit doen met die salwing van God. Dit het my in staat gestel om uit die hart te sing dat mense my musiek kan ‘voel’.”
Deeolen se jongste CD-bekendstelling is verlede Sondag (6 Maart) in Sir Lowry’s Pass gehou en die geleentheid het optredes deur ander plaaslike kunstenaars in die dorp ingesluit.
Lionel Gerwel, Liesa en Abigail de Jong, Christonay Booysen, PJ Kamfer, Delalio Brits, Neil Paulse, Lester en Angelo en Rafkin Fredericks het die verhoog aangedurf en luisteraars bekoor.
Deeolen sê die bekendstelling was ’n reusesukses en dit het sy toewyding om ander te inspireer, herbevestig.
“Ek sal deeltyds met my musiek voortgaan terwyl ek met my studies aangaan. Ek sal steeds optree en hoop om ’n invloed op mense te hê en die Here met my musiek te dien.”
Deeolen se musiek sal binnekort op Youtube beskikbaar wees.
Enigiemand wat graag ’n kopie van sy CD wil aanskaf, kan 076 552 7735, 072 945 5784 of 065 839 5520 skakel.