Ambrose Bezuidenhout (13) met sy fiets en tuisgemaakte waentjie kort voor sy vertrek na potensiële kliënte om hul motors vir hulle te was.


Dit is nie aldag dat jy in ’n Desember-vakansie ’n tienerseun by die see sien werk nie. Vir Ambrose Bezuidenhout (13) van Yzerfontein was daar nie ’n ander opsie nie.

Dit was egter nie omdat hy geen ander keuse gehad het nie. “Hy wou eenvoudig net,” vertel sy trotse ma, Vanna Bezuidenhout.

Dié topleerder van Darling College het verlede jaar besluit om ekstra sakgeld te verdien deur algemene take vir die bure te doen – teen ’n billike fooi, natuurlik. Hy was gewillig om enigiets te doen – van gras sny en ander tuinwerk doen tot met honde gaan stap, maar net totdat hy deur ’n vriend aan die motorwasbedryf bekend gestel is.

Dié gesin het vyf jaar gelede van Alberton af na die kusdorp Yzerfontein verhuis. Die Bezuidenhouts is nie een dag spyt oor die groot stap nie. Vanna en haar man, Pierre, se wens vir Ambrose was juis om met die vryheid wat ’n klein kusdorp bied, groot te word – weg van die gewoel van die stad en die aanloklikheid van die televisie- of selfoonskerm.

Ambrose, die jongste met twee ouer susters wat reeds uit die huis is, was nog altyd baie gedrewe soos sy goeie punte by die skool weerspieël, vertel sy ma. Sy wens is om eendag vir Elon Musk te werk. Met dié toekomsdrome is dryfkrag nodig, en Ambrose kort niks daarvan nie. Hy wil daagliks iets nuuts aanpak en daarin uitblink.

Hy het ’n geruime tyd saam met sy vriend in die omgewing van Yzerfontein help motors was en kort voor die Desember-vakansie op sy eie begin. Sy pa het aanvanklik ’n tuisgemaakte waentjie vir sy fiets gemaak waarop hy sy karwasprodukte kon pak. Dit was nie so ’n groot sukses nie en Ambrose het met skrape by die huis gekom omdat “die waentjie hom kort-kort laat val het”, skerts sy ma. “Hy het later ’n waentjie vir ’n fiets op Takealot gesien. Ek het hom R1 000 daarvoor geleen en hy het elke sent terugbetaal,” vertel sy trots.

Met die groot getal vakansiegangers wat Yzerfontein dié afgelope feestyd besoek het, het hy nie net vinnig daardie waentjie afbetaal nie, maar die ekstra sakgeld gemaak waarop hy gehoop het. Hy het nou gereelde kliënte en slaan ook munt uit die dorp se naweekbesoekers. “Hy bied tot pakkette aan,” voeg sy ma verstom by.

Sy ouers het hom aangemoedig om sy geld te gebruik en te geniet, maar Ambrose het ander planne, vertel Vanna. Volgens haar wil hy sy motorwasonderneming uitbrei en wil eendag ’n perseel hê waar hy inwoners en besoekers se motors kan was. “Hy koop gereeld nuwe produkte vir sy onderneming,” vertel sy.

Vir nou is sy fiets en waentjie meer as genoeg. Ambrose gebruik sy eie produkte en was gelukkig om spesifieke middels by een van sy kliënte te kry.

Inwoners praat met lof van Ambrose nadat hulle kliënte van hom geword het. Alida Schultz het hom op Facebook beskryf as ’n “besonderse seun met mooi maniere”, en Cornia Hayes het op haar beurt gesê sy het baie respek vir “dié jong man wat gewillig is om so hard te werk”.

Almal is dit eens dat ’n blink toekoms op Ambrose wag. Dié graad 7-leerder, wat vroeg in Januarie verjaar het, hoop om hom in 2023 by Hoërskool Swartland op Malmesbury aan te sluit.

You need to be Logged In to leave a comment.