“Rus sag, ou seun. Ons gaan jou bitter baie mis.”
Dít is die woorde waarmee ’n plaaslike kinderhuis een van sy eie gegroet het nadat ’n seun in ’n messteekvoorval buite sy skool noodlottig gewond is.
Die 16-jarige Adrian Fredericks, ’n graad 8-leerder aan Laurie Hugo Primêr in Moorreesburg – ’n intermediêre skool van gr. R tot gr. 9 – is Vrydagmiddag buite die skoolterrein dood ná ’n bakleiery waarin hy noodlottig gewond is toe hy vermoedelik deur ’n geskorste mede-leerder met ’n mes in die bors gesteek is.
Paramedici het Adrian op die toneel behandel en met hom na ’n plaaslike hospitaal gejaag, waar hy later oorlede is.
’n Minderjarige verdagte is kort ná die voorval in hegtenis geneem en het reeds in die Moorreesburg-landdroshof verskyn.
Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het vroeër aan Netwerk24 gesê die verdagte is reeds voor die voorval weens swak dissipline geskors.
Huis van Heerde- kinder- en jeugsorgsentrum in Moorreesburg, waar Adrian tuisgegaan het, het by navraag in ’n verklaring gesê hy is die afgelope agt jaar in die kinderhuis se sorg nadat hy op 18 Mei 2013 opgeneem is.
Die kinder- en jeugsorgsentrum is ’n organisasie sonder winsbejag, wat ’n tuiste bied vir 70 sorgbehoewende kinders tussen van een tot 18 jaar oud. Die kinders word deur die Kinderwet in die sentrum geplaas wanneer hulle wees gelaat of uit ouerlike sorg verwyder word.
Brenda Maarman, die vakkundige bestuurder by HVH, het Adrian beskryf as ’n “liewe seun wat altyd net wou help en vir almal liefde kon gee – onvoorwaardelik”.
“As hy fouteer het, het hy altyd om verskoning gevra. Hy was ’n klein staatmaker in die huiseenheid waar hy tuisgegaan het. Sy noemnaam in die senior huiseenheid was ‘verklein’, omdat hy so ’n ou klein, fyn mannetjie was.”
Huis van Heerde het Woensdagaand ’n gedenkdiens vir Adrian by die sentrum gehou.
Sy begrafnisdiens het Saterdag 16 April by die VGK Piketberg plaasgevind.