Villagers Montagu het Saterdag (19 Februarie) Robertson Town in ’n opwindende vriendskaplike rugbywedstryd 22-19 geklop.
Die wedstryd is op die King Edward-sportterrein in Montagu beslis.
Omdat die uitslae van vriendskaplike wedstryde nie van belang is nie, sal dié wedstryd waarskynlik eerder onthou word vir Town se merkwaardige terugvegpoging in die tweede helfte as vir die eindtelling.
Die besoekers, wat as een van die groot kanonne in Boland-rugby beskou word, het in die eerste gedeelte van die wedstryd soos ’n voos geslane bokser wat in die kryt rondsteier en basies op sy voete uit was, voorgekom. Dit was nadat die tuisspan hom in die eerste helfte behoorlik laat les opsê het en teen waterdrinktyd 22-0 voor was.
Dit was basies eenrigtingverkeer met die tuisspan wat in die eerste veertig minute 22 onbeantwoorde punte opgestapel het.
Handré Ontong, heelagter van Villagers, het vroeg in die wedstryd met ’n strafdoel geslaag, wat die telbord aan die rol gesit het.
Die tuisspan het sy voorsprong in die 21ste minuut gerek toe sy haker, McMillen Muller, oorgaan vir sy span se eerste drie. Ontong het die doelskop tussen die pale deurgejaag en die telling het tot 10-0 vir Villagers gegroei.
Slegs ’n paar minute later het Ashley Monck (losskakel) Town se verdediging wawyd oopgevlek en los deurgenael vir ’n prag-drie onder die pale nadat eers Ulfred Terblanché (agsteman) en Pernell Mendes (flank) die bal hanteer het. Ontong het die maklike doelskop oorgeklits en die telling was 17-0.
Kort voor rustyd het die tuisspan sy voorsprong verder vergroot toe sy slot Lincoln Pasquallie vir nog ’n vyfpunter oor die doellyn gebars en die rustydtelling op 22-0 te staan gebring nadat Ontong se doelskop links verby is.
Met die aanvang van die tweede helfte was die besoekers egter ’n perd van ’n heel ander kleur. Wat die afrigter tydens rustyd vir sy spelers gesê het, is onbekend, maar dit het gewis die gewenste uitwerking op die span gehad.
Town het binne die eerste paar minute van die tweede helfte met mening teruggeslaan toe die plaasvervangerskrumskakel, Stefan Booysen, in die regterhoek vir sy span se eerste drie oor is. Sy losskakel, Collin Willemse, het met die moeilike doelskop van teenaan die kantlyn af geslaag om die telling 22-7 te maak.
Ná rustyd was Town duidelik in ’n omgesukkelde bui. Hy het ook met meer dringendheid en geesdrif gespeel.
Dit was ook nie lank nie of die tuisspan was terug agter sy eie doelpale nadat die besoekers se haker, Rodvin Hartebees, die tuisspan se doellyn vir ’n tweede drie oorgesteek het, wat die agterstand tot 22-12 laat krimp het. Die doelskop was skeef.
Dit het gelyk asof die bordjies verhang is, want waar die tuisspan in die eerste helfte alleen die tellinghouers besig gehou het, was dit die besoekers wat die telbord aan die rol gehad het. Dit het gelyk of die tuisspan se stoom begin opraak het terwyl die besoekers die pap al dikker aangemaak het.
Die besoekers se ondersteuners was jubelend op hul voete toe Town na aan die einde van die wedstryd weer toeslaan. Hierdie keer was dit die heelagter, Esteban van der Merwe, wat in die regterhoek met ’n prag-drie afgerond het. Willemse het verdoel en die punteverskil slegs drie gemaak met die telling 22-19 en Villagers net-net voor. Die vet was behoorlik in die vuur.
Town het alles in die stryd gewerp om die wedstryd in sy guns te beklink terwyl die tuisspan verbete aan sy klein voorsprong bly klou het en soos tiere verdedig het om te keer dat die besoekers weer die doellyn oorsteek.
Die tuisspan het in die doodsnikke van die wedstryd daarin geslaag om tot binne die besoekers se doelgebied te vorder, maar kon nie die bal geplaas kry nie. Die skeidsregter, Henry Windvogel, het beslis die bal was in die lug. Die eindfluitjie het geblaas en Villagers het as oorwinnaar uit die opwindende rugbystryd getree.