Graad 8- tot gr. 10-leerders aan die Wesbank Sekondêre Skool op Malmesbury is sedert gister (Maandag) terug op ’n rotasiebywoningstelsel nadat leerders verlede week die strate ingevaar het om beswaar te maak teen oorvol klaskamers.
Leerders het verlede week Dinsdag en Woensdag besluit om ’n vreedsame betoging te hou waartydens hulle hul pleidooi – waaronder ’n gebrek aan gehalteonderrig weens oorval klaskamers – te kenne gegee het.
Die terugkeer na die rotasiebywoningstelsel van die afgelope byna twee jaar was onder meer een van hul vereistes.
Vincent Panamore, die skoolhoof, sê dié betoging is deur die leerders self geïnisieer.
Die rotasiebywoning-stelsel is egter net ’n tydelike oplossing.
“Alle gr. 11- en gr. 12-leerders word steeds verplig om skool daagliks by te woon met die eksamen om die draai.”
Die departement van basiese onderwys het vroeër die besluit deur die kabinet – om die rotasiebywoningstelsel sowat drie weke gelede te staak – verwelkom.
’n Skool soos Wesbank Sekondêr, wat altesaam 1 614 leerders moet huisves, maar slegs vir 800 leerders gebou is kon hom egter nie betyds voorberei op die groot getalle wat voltyds teruggekeer het nie.
Kerry Mauchline, woordvoerder vir die Wes-Kaapse minister van onderwys, sê skole reg oor die provinsie ondergaan geweldige druk rakende plek vir leerders as gevolg van die jaarlikse toename in leerdergetalle, wat nie deur die vereiste verhogings in die begroting geakkommodeer word nie.
Sy het bevestig die Weskus-onderwysdistrikskantoor het met die skool vergader en van die grade gaan tydelik weer roteer. “Die skool het Donderdag ’n versoek geplaas aangaande meer klaskamers en ’n besoek is geskeduleer.”
Die probleem heers veral onder die gr. 8- en gr.9-klasse, asook die vier opslaanklasse by Wesbank Sekondêr, waar onderwysers klas vir tussen sowat 50 tot 66 leerders moet gee. In sommige klaskamers, deel tot drie leerders ’n bank, terwyl ander nie ’n plek het om te skryf nie. Volgens die skoolhoof het ’n gemiddelde klas gewoonlik sowat 46 banke, wat reeds tot byna teenaan die bord gepak is.
Glynise Onverwacht, ’n onderwyseres wat LO en toerisme vir die gr. 10- en gr. 12-leerders aanbied, staan soms buite die deur en klasgee terwyl leerders haar lessenaar deel.
“Daar is nie plek om te loop nie en die leerders is geïrriteerd met mekaar as gevolg van die min ruimte,” vertel sy.
’n Verdere 15 minute se onderrigtyd word boonop vermors deur leerders wat sukkel om by klasse uit te kom weens stampvol gange en daarna moet stoei om ’n sitplek te kry, vertel sy. Vervolg op bl. 2