Medelye stroom steeds op sosiale media in vir ’n geliefde eertydse verkeersbeampte van Robertson, wat na bewering verlede Woensdag (6 April) deur ’n taxi omgery is.
Claude van Staden, die eertydse verkeersbeampte, was volgens die Robertson-polisie omstreeks 10:00 in ’n voorval by Paul Krugerstraat Robertson betrokke.
“Die voetganger (Van Staden) is deur ’n motorvoertuig getref en het beserings opgedoen.”
Volgens die polisie is- hy na die Robertson-hospitaal vir behandeling geneem, maar is omstreeks 15:45 weens beserings wat hy in die voorval opgedoen het, oorlede.
Enigiemand met inligting kan speurafjundantoffisier Burger by 023 026 8353 kontak.
Die plasing op Facebook oor die voorval is oorval met die kommentaar van vriende, kollegas, familie en mense van die Langeberg-streek wat hul skok oor wat gebeur het, uitgespreek het.
’n Inskrywing op die blad “Langeberg Nuus en Gebeure” lui: “Bekende Langeberg-verkeersbeampte, Mr. Claude Van Staden, ook beter onder die gemeenskap bekend as ‘Oupa’, is op 6 April 2022 doodgery deur ’n onwettige taxibestuurder. Graag wil “Langeberg Nuus en Gebeure” sy familie en ook sy verkeerskollegas sterkte toewens. Hy was waarlik ’n mensemens met ’n baie goeie hart. Mag sy siel in vrede rus.”
Volgens nog ’n plasing word ’n verbyrydiens om ’n laaste eer aan Van Staden en sy familie te betoon, beplan.
“Ashton Driveby Crew sal Woensdag 13 April 2022 ’n drive-by hê vir wyle Claude van Staden. Ons nooi almal om hierdie mooi gebaar saam met ons en die Driveby Team van Bonnievale te doen.”
Die vertrektyd uit Ashton is om 17:45, maar die span vra dat mense wat wil aansluit, reeds van 17:00 af by Multisave opdaag.
’n Gebed sal eers gedoen word voordat die optog gehou word.
“Ons nooi altyd eerste Ons Vader om saam met ons te beweeg. Kom ons daag in groot getalle op en ondersteun die familie in hul tyd van rou.”
Luidens die plasing is die roudiens Woensdagaand (13 April) net na die verbyry-diens. Ons almal kom bymekaar in Robertson by 7de laan,” lees die inskrywing.