Talle Wes-Kaapse sportlui vereer

Die Wes-Kaapse sportprysuitdeling-seremonie is Saterdag (6 Maart) in die Cape Sun-hotel in Kaapstad gehou.


Die Wes-Kaapse sportprysuitdeling-seremonie is Saterdag (6 Maart) in die Cape Sun-hotel in Kaapstad gehou.

Uitgesoekte atlete en sportadministrateurs van oor die hele provinsie het pryse vir hul bydraes in sport ontvang.

Die Weskus-sportfederasie het ’n aantal benoemings gehad, wat almal van junior tot senior atlete ingesluit het, en die Weskus-netbalfederasie het ses van die streek se benoemings gehad.

Nadene Scherman is as sport-gemeenskapsbouer van die jaar benoem. Inge Theron is as vrywilliger van die jaar benoem, terwyl Suzette Visser as afrigter van die jaar benoem is. Die Weskus se vroue- A-span is as span van die jaar benoem en die federasie vir die federasie van die jaar. Brandon Brand is op sy beurt in die kategorie vir tegniese uitnemendheid benoem.

Van die Weskus se benoemdes was Theron, die voorsitter van die Velddrif-netbalklub en die federasie se wedstrydsekretaris, die enigste lid van die Weskus-sportfederasie wat die gesogte trofee ontvang het.

Ray van Rooy, die trotse Bergrivier-burgemeester, was ook by die geleentheid en was saam met Theron en Brand opgewonde oor hul munisipale gebied se prestasies.

Die Weskus-netbalfederasie wens Theron geluk met haar prestasie en sê hulle is “bitter trots”. Hulle meen haar opofferinge en tyd wat sy vir die Weskus, Velddrif en in gemeenskappe deurbring, is met hierdie prys beloon.

Volgens Theron kon sy dit nie alleen doen nie en sy het die Velddrif-netbalklub “waar dit alles begin het”, bedank. “Annina Brand, dankie dat jy my toegelaat en vertrou het om die klub te lei. En dankie vir die hele Velddrif-gemeenskap vir die ondersteuning om vrywilligerswerk in en om hierdie klein dorpie te doen.”

Daarmee saam bedank sy ook die netbalfederasie vir die benoeming asook vir die geleentheid om deel van die federasie te wees. Theron meen sy het in vele aspekte gegroei. “Baie geluk ook aan my medelede van die uitvoerende raad wat ook in hul verskillende kategorieë benoem is. Dit is inderdaad ’n groot eer! Ek is bevoorreg om deel van hierdie wonderlike span te wees,” meen sy.

Theron bedank ook haar familie en vriende vir hul ondersteuning.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.