Die pad tussen Darling en Yzerfontein (MR215/R315) was die afgelope naweek tydelik gesluit nadat hoë reënvalsyfers die Swartlandstreek sedert Donderdag 3 Julie geteister het.
Heinrich Robertson, die hoof van toerisme en kommunikasie by die Weskus-distriksmunisipaliteit, sê hul padspanne is na verskeie roetes ontbied om waterkanale oop te hou en verspoelde gedeeltes te beveilig.
Gerhard Treudouw van die plaas Middelpos sê die Darling-koppe het 77mm reën ontvang. Volgens hom het die groot hoeveelheid reënval vinnig en oor ‘n kort tydperk uitgesak, wat oorstromings en verspoelings veroorsaak het.
Die provinsiale pad is Saterdagaand 5 Julie omstreeks 20:00 tydelik tot vroeg die volgende oggend vir motoriste se veiligheid gesluit nadat ‘n groot hoeveelheid sand en grond op die ryvlak beland het. “Padspanne het dringend opgetree om die pad veilig te maak en die roete is sedert Sondagoggend weer oop vir motoriste.”

Volgens Mart-Marie Haasbroek, ‘n woordvoerder vir die Swartland-munisipaliteit, het ‘n voertuig die pad probeer oorsteek en in die proses vasgeval. “Swartland se brandweerdienste en wetstoepassers was op die toneel en ‘n laaigraaf is na die omgewing ontbied. Omliggende boere het ook gehelp om die voertuig veilig uit te trek. Die pad is intussen weer oopgestel.”
Herstelwerk het Maandag 7 Julie op sekere dele voortgegaan.
Motoriste word steeds versoek om versigtig te ry en die padspanne toe te laat om hul werk onder veilige omstandighede te verrig.
Intussen het ‘n dam se wal by Muisvoëlplaas teen die Klipheuwel-pad meegegee en erge modder en klei oor die pad gespoel. Die pad was ook gesluit vir verkeer en opruimingswerk is gedoen.
‘n Motoris het na bewering die “gesluit”-bord verontagsaam, in die modder gegly en ‘n ongeluk gemaak. Brandweer en wetstoepassers was op die toneel om bystand te bied. Alle paaie is weer oop. Die munisipaliteit doen ‘n ernstige beroep op alle inwoners om nie vullis en rommel in stormwaterdreine te stort nie en om verstopte stormwaterdreine vroegtydig aan te meld.
“Inwoners word ook versoek om in sulke gure weersomstandighede soos die afgelope naweek ervaar is, gehoor te gee aan padtekens, verkeersbeamptes en veiligheidspersoneel en nie kanse te waag met paaie wat oorstroom is nie.”


