’n Bekende plaaslike inwoner is hard aan die wikkel nadat sy besef het om te gee is baie beter as om te ontvang.
Cemelia Malan (52), of beter bekend as Miela, wat in 2009 haar eie vroeëkinderontwikkelingsentrum in Sir Lowry’s Pass geopen het, het aan die begin van die landswye inperking in 2020 ’n nood in haar gemeenskap bespeur.
“Misdaad het in die omgewing waar ek woon baie erg begin raak, maar dis grotendeels diefstal wat my laat dink het. Steel mense omdat hulle honger is, of iets anders?” het sy haarself afgevra.
Sy het een middag saam twee vrouekollegas ’n plan beraam om een keer per dag kos uit te deel aan mense wat nie kos op hul tafels gehad het nie.
“Ek het so tussen my werk deur by die sentrum begin kosmaak vir mense – ’n tipe van ’n ‘catering’-besigheid. Ek het die een aand baie kos oorgehad en besluit om dit aan mense in my gemeenskap te gaan uitdeel.”
Miela se kos-uitdeel het so vinnig momentum opgebou dat sy vir haar eie skool se 30 kinders begin kos gee het, asook 60 oumense. “Ek deel elke dag van 16:30 tot 18:00 kos uit en gee nou al vir tot 700 mense per dag kos – elke dag behalwe Saterdae en Sondae,” sê sy.
Cemelia bedank skenkers soos Journey’s End Vineyard, wat help met produkte vir die kos wat sy en haar helpers verskaf, en hulle voorsien ook gas aan Miela se kosmaak-span.
As sy nie kosmaak of klasgee nie dan help sy mense in haar gemeenskap om by binnelandse sake in Khayelitsha uit te kom om hul identiteitsdokumente ensovoorts uit te sorteer. Miela het eenkeer selfs betaal vir die begrafnis van ’n vrou wat in die gemeenskap doodgesteek is, asook die babakind wat sy voor haar dood verloor het.
“Dis iets in my; ek weet nie wat dit is nie, maar dit motiveer my om ander te wil help. Dis net so lekker, ek geniet dit baie,” sluit sy af.