Swartlandskou weer op dreef

Die gewilde Swartlandskou gaan vanjaar voort. Skougangers, waaronder besoekers, uitstallers en deelnemers aan die verskillende kampioenskappe, kan ná twee jaar se stilte weer uitsien na dié plaaslike geleentheid wat gedurende 2019 sowat 20 000 voete


Die gewilde Swartlandskou gaan vanjaar voort. Skougangers, waaronder besoekers, uitstallers en deelnemers aan die verskillende kampioenskappe, kan ná twee jaar se stilte weer uitsien na dié plaaslike geleentheid wat gedurende 2019 sowat 20 000 voete gelok het.

Jacques Bester, wat sy rol as skoupresident voortsit, sê hy en die bestaande bestuur is baie opgewonde om vanjaar se skou aan te bied, wat die 88ste keer sal plaasvind. “Ons en ywerige uitstallers is baie opgewonde, maar ook positief dat vanjaar se skou aan dieselfde standaard as vorige jare sal voldoen.”

Volgens Bester poog die organiseerders om jaarliks te verbeter op die vorige jaar en hoop dié skou sal net so suksesvol wees, indien nie beter nie.

Die bestuur, wat reeds volstoom aan die werk is, staar wel baie uitdagings, soos ’n tekort aan borge, in die gesig, voeg hy by. “Ons gaan dieselfde tradisionele skou aanbied. Hoewel die Covid-19-pandemie baie uitdagings gebring het, is ons positief dat die skou suksesvol sal voortgaan. Die mense is honger vir die skou.”

Swartlandskou op Moorreesburg, die grootste landbou- en masjinerieskou in die Wes-Kaap, vind vanjaar van 7 September tot 10 September plaas. Die Swartlandskou bied ’n wye verskeidenheid van aktiwiteite. Wêreldklas kampioenskappe van beeste, skape, perde, pluimvee en bokke sal weer plaasvind. Daar kan ook weer uitgesien word na die gewilde landbouseminaar met bekende sprekers, die elegante damesoggend, ’n wye verskeidenheid van uitstallers en vele meer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.