Die Malmesbury-toutrekklub het onlangs van 17 tot 19 Maart ’n suksesvolle SA Junior toutrekkampioenskap aangebied, wat tot sowat 5 000 mense na die dorp gelok het.
Plaaslike verblyf het omtrent uit die nate gebars nadat ’n ongelooflike 276 spanne van oor die land heen hulle vir dié kampioenskap ingeskryf het. Sowat 2 000 atlete het aan die kampioenskap deelgeneem, wat weens die Covid 19-pandemie na 2022 uitgestel is, vertel Rentia van der Berg, voorsitter van die plaaslike klub.
Die kampioenskap is in 2021 aan die plaaslike klub toegeken, wat ongeag die terugslag steeds met voorbereiding van die veld op die plaaslike landbou-skouterrein voortgegaan het. Die veld is ter voorbereiding van die byeenkoms op die klub se eie onkoste omgeploeg en nuut aangelê. Die veld is verder vir ’n jaar onderhou totdat die kampioenskap uiteindelik vanjaar kon plaasvind.
Deelnemers het egter nie net tougetrek nie. Die klub het besoekers en deelnemers van oral behoorlik laat tuis voel, met steakbraai-etes wat saans deur Marius Foot voorberei is en die sanggroep Cobus en Christo wat hope vermaak opgedis het. Stalletjies en ’n baie gewilde Youtube-vragmotor was ’n groot treffer onder besoekers.
Die klub bedank almal wat gehelp het om die geleentheid ’n groot sukses te maak.
“Dit was slegs deur die genade van ons Hemelse Vader dat hierdie massiewe kampioenskap ’n sukses was,” voeg Van der Berg by. “Ons is baie trots op ons spanne,” vertel sy.
Van der Berg het namens die klub ook gelukwense aan die Hoërskool Swartland se troutrekspanne oorgedra, wat baie goed presteer het.
Die uitslae van Malmesbury-toutrekklub se spanne was as volg:
320kg – 2de plek
360kg – 1ste plek
400kg – 2de en 4de plek (2 spanne ingeskryf)
440kg – 2de plek.