Anaïs (middel) en haar twee vriendinne, Kayla van der Merwe (links) en Luchuané Hechter, wat haar deurgaans gemotiveer en ondersteun het. Hier is hulle saam by die bekendmaking van die matriekuitslae op 21 Januarie.


Drie Swartlanders wat hul hoërskoolloopbaan onderskeidelik aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch en Hoërskool Gimnasium Paarl voltooi het, het uitstekend in hul matriekeindeksamen presteer.

Anaïs Herman van Malmesbury het met nege onderskeidings aan Bloemhof matrikuleer. Sy het 90,5% gemiddeld vir haar Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen behaal en sê sy voel bevoorreg.

Herman se planne vir hierdie jaar het onlangs verander en sy het uiteindelik besluit om ’n hoër sertifikaat in kantooradministrasie (projekbestuur) by Akademia na te streef, juis weens haar liefde vir organisering en administrasie. Daarna sal sy nóg studie-opsies ondersoek, waaronder bedryfsingenieurswese en Bcom.

Herman het ondanks ’n moeilike en besige matriekjaar baie ondersteuning by haar skool, koshuis en huis ontvang. Sy dra haar goeie uitslae veral aan haar twee vriendinne, Luchuané Hechter en Kayla van der Merwe op, wat haar deurgaans gemotiveer en ondersteun het. “Die prestasie is nie net my eie nie, maar ook ’n weerspieëling van my ondersteuningsnetwerk.” Sy beskryf haar prestasie as ’n getuienis van die gawes en talente wat die Liewe Vader aan haar toevertrou het. “Ek sou definitief nie wees waar ek vandag is sonder Sy genade en liefde nie,” voeg sy by.

Elkeen ervaar matriek anders, meen Herman, maar as sy kon raad gee aan vanjaar se Graad 12-leerders, is dit om te luister in die klas. “Maak net seker dat jy jou werk verstaan en nie agter raak omdat jy nie in die klas opgelet het nie.”

Die belangrikste van alles – moenie bang wees om vrae te vra nie. “Die onderwysers is daar om jou te help en seker te maak jy bereik jou volle potensiaal,” sê sy. Buiten akademie, moedig sy matrieks aan om vanjaar aan alles deel te neem, maar sonder om hulself te benadeel. “Maak seker jou matriekjaar is een om te onthou,” sluit sy af.

Mariska Coetzee van Malmesbury, wat haar matriekjaar aan die Hoërskool Gimnasium Paarl voltooi het, pronk tweede op die ranglys onder dié skool se toppresteerders. Sy het ’n gemiddeld van 89,71% behaal, terwyl sy verder met sewe onderskeidings kan spog.

Coetzee gaan vanjaar BSc Fisioterapie aan die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus studeer en is dankbaar dat sy ’n plek vir dié graad kon kry. Sy het nog altyd geweet dit is wat sy wil studeer. Haar loopbaankeuse was ’n gogga wat vroeg gebyt het, vertel sy.

Coetzee het glad nie die uitslae verwag wat sy sowat twee weke gelede saam met duisende voormalige matriekleerders van reg oor die Wes-Kaap ontvang het nie. Volgens haar het sy geweet sy gaan nie te sleg doen nie, maar was wel onseker wat om te verwag. Sy beskryf haar eksamen as baie stresvol en was veral bekommerd en onseker of haar antwoorde in die skeinat-vraestel korrek sou wees.

Haar boodskap aan vanjaar se matrieks is om hul beste te gee. Sy moedig hulle aan om hard te werk, aandag aan alles te gee – ongeag hoe klein die opdrag is – en daarin te probeer presteer. “Elke druppel help; ek kan vandag daarvan getuig.”

Mede-Gimmie Annika Basson, ook van Malmesbury, het sewe onderskeidings in die sakkie, met ’n gemiddeld van 88,57%. Sy behaal ’n algehele sesde plek onder die skool se toppresteerders.

Basson gaan vanjaar chemiese ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch studeer. Sy skryf haar goeie resultate aan gene toe – nie net sy nie, maar ook haar ouers het almal ’n “kop vir syfers”.

Sy erken egter harde werk het ’n groot rol gespeel, maar dit was die moeite werd. Sy het haarself deurgaans gemotiveer, want sy het gedurende haar skoolloopbaan besef dat dit wel dalk nou sleg is, maar dat die toekoms goeie tye inhou en sy by goeie uitslae sal baatvind. Haar raad aan vanjaar se matrieks is: “Haal asem en bly rustig.”

You need to be Logged In to leave a comment.