Die Swartland-veteraneklub het die afgelope Saterdagaand (7 Desember) groot vreugde na die inwoners van Malmesbury gebring toe 15 veteraantrekkers en ’n verdere 11 ou voertuie, insluitend ’n vragmotor vol Kersversierings en liggies in ’n konvooi deur die dorp se strate gery het.
Die klub het amptelik verlede jaar met hierdie inisiatief begin, waartydens hulle ook lekkers aan kinders in die dorp uitgedeel het.
Die tradisie is vanjaar met meer deelnemers en ’n groter gehoor voortgesit.
Volgens die klubvoorsitter, Pieter van Aswegen, is aanvanklik verlede jaar besluit om die jaar op ’n hoë noot af te sluit deur op dié wyse weer in die plaaslike gemeenskap terug te ploeg en vreugde te bring.
“Dit was lekker; die mense van die dorp het dit baie geniet en ons het goeie terugvoer gekry,” voeg hy by.
Volgens hom sien hy die tradisie gaan jaarliks groei. Vanjaar het klublede ook by tehuise en instansies wat swaarkry, gestop en benodigdhede uitgedeel.