Die tweede Swartland-burgemeestersportfees, ook bekend as die Burgemeestersbeker 2025, begin Saterdag (15 Februarie) op die Gabriël Pharaoh-sportterrein in Darling.
Die toernooi is uitgebrei na afloop van die aanvangsgeleentheid wat verlede jaar as die Burgemeestersbeker bekend gestaan het. Hierdie jaar sluit die toernooi rugby, netbal, 7’s-rugby asook vrouerugby in.
Veertien rugbyspanne en sewe netbalspanne van reg oor die Swartland gaan deelneem.
Die wedstrydbepalings, wat uit verkorte wedstryde bestaan, word Woensdag (12 Februarie) tydens ’n spesiale geleentheid, wat op die munisipaliteit se Facebookblad uitgesaai word, bepaal.
Die toernooi gaan jaarliks roteer om al die dorpe blootstelling te gee.
Die dag beloof om vol aksie en opwinding vir die hele gesin te wees. Die hekke open om 07:00 Saterdagoggend. Toegang is gratis vir pensioentrekkers, mense met gestremdhede en kinders jonger as 7 jaar oud. Kaartjies vir kinders tussen 7 tot 13 is R10, en kaartjies vir volwassenes en kinders ouer as 14 kos R20.
’n Verskeidenheid kosstalletjies asook ’n biertent sal beskikbaar wees. Geen alkohol mag van buite af ingebring word nie en veiligheidspersoneel sal mense se sakke en meer nagaan om te verseker daar word aan die reëls voldoen.
Hierdie toernooi is die passie-projek van die uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas. Cleophas glo in die positiewe invloed wat sport kan hê op nasiebou en sosiale verandering. “Sport is ongelooflik kragtig en by Swartland wil ons daai positiewe energie vat en dit tot die verbetering van ons hele gemeenskap aanwend,” het Cleophas gesê.
Die plan is om die toernooidag elke jaar uit te brei. Die formaat sal ná hierdie jaar se geleentheid weer bespreek word.
“Namate die geleentheid groei, sal alle reëlings en praktiese oorwegings geëvalueer word sodat ons die beste moontlike geleentheid kan aanbied. Die beplanning is om dit volgende jaar moontlik in Moorreesburg aan te bied, maar die finale besluit sal eers later in die jaar geneem word.”
Die inkomste wat hieruit geskep word, sal aangewend word vir die Burgemeestersfonds vir verdere uitreikprogramme in die gemeenskappe.