Nelda Buhr van Malmesbury is deesdae op kykNet se Kokkedoor Vuur en Vlam te sienFoto:


Malmesbury se Nelda Buhr is deesdae op kykNet se Kokkedoor Vuur en Vlam 2025 te sien.

Nelda, ’n opgeleide sjef en kunstenaar, gebruik mediums soos olieverf, klei, hout, blomme, deeg en grond.

Sy is versot op kleure, nuuskierig oor die lewe, geïnteresserd oor verskillende kookmetodes en produkte en ook produkte se herkoms.

“Ek het ingeskryf omdat ek glo Kokkedoor Vuur en Vlam is ’n goeie platform waarop ek myself kon uitdaag; ’n kreatiewe avontuur.”

Sy het baie navorsing ter voorberei- ding gedoen en baie geoefen om disse en poedings oor die kole te maak.

“Die vuurkonsep is deesdae gróót – selfs in Europa. Min mense besef die potensiaal van kos op die vuur. Dink aan ons voorgeslagte wat so moes kosmaak – maar nou met ’n moderne kinkel. Veral die gaarmaak van groente oor kole is deesdae gewild – wortels, kool, preie … nie net aartappels en mielies nie.

“Omdat die reeks verlede jaar in die winter opgeneem is, het dit gebeur dat ons met handskoene by die stoor in Struisbaai se kampeerterrein aankom, dan wag die vure reeds binne. Daar was heeltyd vuur en kruiwaens vol kole beskikbaar. Ek was verstom oor hoeveel hout in hierdie tyd gebruik is.

“Dis nie maklik om mekaar se disse op die stel te sien nie; ek kon ook nie altyd hoor wat die beoordelaars oor ander deelnemers se geregte sê nie. Ons vra mekaar agterna hieroor uit, dan wentel gesprekke oor kos en lesse geleer. Die atmosfeer onder deelnemers en die Kokkedoorspan was deurentyd een van aanmoediging en ondersteuning. Die hele produksiespan het elke dag uit hul pad gegaan om elkeen van ons op ons beste te laat presteer. Die koskenner Errieda du Toit sou gereeld, sonder om voorskriftelik te wees, vir ons praktiese wenke gee; dinge waaraan almal nie vooraf dink nie. Ek kon my vergaap aan die pragtige detail van die Kokkedoorstel; elke dag iets nuuts. Die produksiespan werk regtig baie hard.

“Die spens vol bestanddele, so kleurvol en indrukwekkend, was omtrent ’n ervaring. Tydens ’n ledige uur het ek voor die spesery- en kruierakke gaan sit en my daaraan verkyk. Hier het ek onder meer sichuan-peperkorrels leer ken.

“Soms voel ’n mens baie opgewonde oor jou eindresultaat, maar dan kyk die beoordelaars hééltemal anders daarna – wat ’n leerskool.”

As sy gehoop het om haarself uit te daag, was sy in die kol: “Niks kon my voorberei op hoe drasties kos en gaarmaakmetodes vernuwe het nie – ek was immers in 2011 laas ’n formele sjef. Soms was nuwe opdragte vreesaanjaend! Ek het myself ’n paar keer gevra wáárom het ek dit aan myself gedoen; waarom het ek ingeskryf? Dikwels het ek gedink my voorbereidings, navorsing en oefenry oor die vuur het niks gehelp nie.”

Nelda was die eerste deelnemer wat steke moes kry. “Mediese personeel is voltyds aan diens. ’n Mens raak só gedrewe terwyl jy kosmaak; dan is dit doodreg as jy net tydelik behandel word en ’n dokter eers vanáánd steke insit.”

Met terugskoue besef sy hoeveel het die hele ondervinding vir haar beteken. “Dit was my besluit om deel te neem; hierdie emosionele ding om myself bloot te stel. Ek het nuwe mense ontmoet; ek het weer die jonger geslag leer ken. Ek het veral geleer ek wil relevant bly.”

Werd om te weet
. 10 Kinkelbraaiers het formele kwalifikasies of bewese sjef-ondervinding. 10 Onthoubraaiers is passievol oor tradisionele kos, maar sonder opleiding. Onthou- en kinkelbraaiers werk twee-twee as braaimaats saam, met die sjef Bertus Basson en die braaikenner Kobus Botha as beoordelaars. Een braaipaar word in elke episode huis toe gestuur.. Geen kos is ooit vermors nie. Elke halwe aartappel en alle rou en gaar kos wat oorgebly het, is na sopkombuise in die omgewing gestuur.

Sowat 42 ure se filmmateriaal word gesny ter wille van ’n episode van 48 minute.

You need to be Logged In to leave a comment.