Phillip Humphreys groet sy kantoor as direkteur van beskermingsdienste by die Swartland-munisipaliteit.

Phillip Humphreys (65), die Swartland-munisipaliteit se direkteur van beskermingsdienste, groet na 25 jaar en ses maande.

Hy het Vrydag 27 Junie ‘n afskeidspartytjie saam met sy kollegas en personeel geniet. Hy koester vandag die goeie werksverhoudinge tussen homself, sy werksmense en die munisipale raad.

Sy pad by die munisipaliteit het amptelik op 1 Desember 2001 met die samesmelting van die vorige munisipaliteite, naamlik Darling, Moorreesburg, Malmesbury en Yzerfontein, begin. Hy was toe aanvanklik as die bestuurder van beskermingsdienste aangestel.

Min weet egter dat Humphreys voor sy dae as munisipale amptenaar onderwys studeer het.

LOOPBAAN VOL HOOGTEPUNTE

Humphreys, wat steeds in sy geboortedorp, Darling, woon, kyk vandag terug op ‘n geseënde loopbaan vol hoogtepunte, maar skroom nie om die struikelblokke wat daarmee gepaard gegaan het, te noem nie.

Dié voormalige Schoonie staan sedert Oktober 2004 as direkteur vir beskermingsdienste bekend nadat die posbenaming verander het.

Humphreys beskryf die vestiging van die munisipale polisie as die grootste oomblik loopbaangewys, gevolg deur die afskaffing daarvan in 2013 weens finansiële bekostigbaarheid van die diens. Dít beskryf hy as een van sy hartseerste oomblikke.

Humphreys brei uit en sê beskermingsdienste is daagliks in die openbare oog. “Die verwagtinge is dat ons alles vir almal moet wees. Daaglikse uitdagings gaan oor dit wat in die openbare oog is, soos loslopende diere, taxi’s, drankmisbruik, dwelms ensovoorts,” sê hy en voeg by hy kan nog aangaan.

Sy raad aan ambisieuse jong mense, wat vandag ook ‘n suksesvolle loopbaan wil nastreef, is om hul drome te jaag. “As jy ‘n droom het, volg dit op. Ons Hemelse Vader gee ons die krag en gesondheid om jou drome uit te leef.”

Sy leuse waarby hy tot vandag toe hou: “Doen vandag se werk vandag, want môre het sy eie uitdagings.”

BESIGE AFTREDE

Humphreys glo sukses kan nie sonder gebed en vertroue bereik word nie. “Ek het soggens ná my oggendgebed met vertroue werk toe gekom en dit tot my aftrede geniet,” voeg hy dankbaar by.

Hy is ook dankbaar teenoor God vir ‘n gesonde liggaam met die begin van ‘n nuwe fase in sy lewe. Die raad wat hy vir sy opvolger het, is eenvoudig. “Jy is aangestel om ‘n sekere job te doen – doen dit tot die beste van jou vermoeë.”

Humphreys, ‘n pa van drie en oupa van agt, sien uit na sy aftrede, maar sê hy tree nie uit nie. Hy beoog om by die Boland-rugbyunie betrokke te bly en gaan hom ook dalk in die sakewêreld begewe. “Ek gaan dinge doen wat lekker is en dinge waarvoor ek nooit tyd gekry het nie,” sê hy met ‘n glimlag.

Die uitvoerende burgemeester van die Swartland-munisipaliteit, Harold Cleophas, sê Humpreys het die departement gebou tot waar dit vandag is en is bly vir sy aandeel en bydrae tot nou.

“Hy het puik werk gelewer.” Die Speaker van die Swartland-munisipaliteit, Michael Rangasamy, het Humphreys as ‘n toegewyde siel oor die jare beskryf. “Hy het die Swartland werklik goed gedien.”

You need to be Logged In to leave a comment.