Susters kry elk hul PhD saam

Dit was ’n dubbele viering vir die sibbe Clarice en Manisha du Plessis van Robertson, wat albei gedurende die Universiteit Stellenbosch se April-gradeplegtigheidsreeks met PhD-grade beloon is.


Dit was ’n dubbele viering vir die sibbe Clarice en Manisha du Plessis van Robertson, wat albei gedurende die Universiteit Stellenbosch se April-gradeplegtigheidsreeks met PhD-grade beloon is.

Clarice (27) het ’n PhD in meganiese ingenieurswese verwerf en Manisha (25) ’n PhD in wetenskap, spesifiek fisiologiese wetenskappe. Die sibbe is die eerste lede van hul gesin wat ’n PhD-kwalifikasie verwerf en het ’n dag ná mekaar gegradueer.

Die susters het in Robertson grootgeword en gematrikuleer en het menige studiesessie saam deurgebring omdat hulle gedurende hul universiteitsjare meestal ’n woonstel gedeel het.

“Dis opwindend om graad te vang, veral in die lig van al die onsekerheid wat met die Covid-19-pandemie gepaard gegaan het. Ek is verheug dat ek betyds kon klaarmaak en bly ek en my suster kon saam gradueer. Dit is wonderlik dat dit so uitgewerk het,” het Clarice gesê.

Volgens haar was hulle albei van jongs af baie akademies gedrewe. “Ons ouers het nooit enige druk op ons uitgeoefen nie. Hulle het ’n omgewing geskep waarin hulle ons laat glo het ons sukses was nét ons s’n, nie hulle s’n nie. Hulle het ons regtig bemagtig om dit vir onsself te doen.”

Manisha het bygevoeg: “Hulle het altyd baie belanggestel in wat ons doen, met ons werk bygebly en al die publikasies gelees.”

“Ons ouers is net so trots op ons prestasies,” het sy gesê.

Kankernavorsing

Manisha se navorsingsfokus is borskanker en sy is ’n na-doktorale genoot in die departement fisiologiese wetenskappe, waar sy van plan is om vir die afsienbare toekoms te bly.

Die titel van haar PhD-tesis was “Molekulêre regulering van outofagie en metastase in borskanker: nuwe insigte in die rol van serum-amiloïed-A”. Haar navorsing dui daarop dat die akute fase-proteïen serum-amiloïed-A (SAA), wat hoofsaaklik deur hepatosiete (die belangrikste funksionele selle van die lewer tydens ’n inflammatoriese reaksie of infeksie) geproduseer word, ’n belangrike rol in die progressie van borskanker speel.

Oor haar langtermyn-doelwitte het Manisha gesê: “Ek wil graag vir die volgende paar jaar in kankernavorsing bly, want ek geniet die navorsing en die laboratoriumwerk regtig baie. Ons doelwit is om oor die volgende jaar of twee kankertoetsprotokol te ontwikkel wat kankerbehandeling en pasiëntuitkomste sal verbeter. Daarna oorweeg ek dit om oorsee te gaan en my borskankernavorsing voort te sit.”

Ingenieur in hart en siel

Clarice het die hoofmeganismes van aksiale waaiergeraas in haar PhD-tesis met die titel “Gradering van aksiale waaiergeraas”, ondersoek.

Die hoofdoel van haar navorsing was om die uitwerking te ondersoek van ’n verandering in waaierdeursnee op die ver-veldgeraas wat gegenereer word. Dit is gedoen deur die hoofmeganismes van waaiergeruis (agterrand-, punt-vorteksvorming- en turbulensie-innamegeraas) te voorspel om die geraas te verteenwoordig wat in verskillende bedryfstoestande deur ’n volle waaier gegenereer word.

Clarice wil graag in die buiteland gaan werk. “Ek stel baie belang in motors oor die algemeen. My doelwit was nog altyd om by ’n maatskappy te werk wat met aërodinamika werk.” – Sue Segar, US

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.