Die Wesbank-rugbyklub maak gereed vir sy gewilde jaarlikse SuperSPAR-Malmesbury-sewestoernooi wat vanjaar uiteindelik weer kan plaasvind nadat dit verlede jaar weens Covid-19-beperkings afgestel moes word.
Die toernooi word Saterdag 29 Januarie by Wesbank-rugbyklub se sportterrein in Alfastraat gehou.
St. George’s, wat die laaste sewestoernooi in 2020 gewen het, gaan vanjaar weer aan die reeks deelneem, asook verskeie plaaslike spanne soos Moorreesburg, Abbotsdale en Spairs, wat reeds hul deelname bevestig het.
Nog spanne soos Helderberg, Strand, Evergreens, Mamre, Hamlets, Kylemore en Young Hearts het ook hul plekke bevestig asook die Pretoria Harlequins, naaswenners van die laaste sewestoernooi, en sal weer na Malmesbury reis. Die deelnemende spanne moes egter vanjaar weens Covid-19 van meer as 50 na 24 spanne verminder word, en die toernooi sal slegs oor een dag plaasvind en nie twee dae soos voorheen nie. Die prysgeld bly egter onveranderd op R50 000 vir die wenspan en R10 000 vir die naaswenner. Die speler van die toernooi sal met R1 000 beloon word.
Hekgeld beloop R30 vir volwassenes; voertuie kos R20 en leerders betaal ook R20.
Rugbyondersteuners wat na die wedstryde wil kom kyk, moet hul inentingsertifikaat by die hek toon om in die stadion toegelaat te word.