St. Michaels Primêr in Abbotsdale het die afgelope maand ‘n suksesvolle jeugprogram in Jeugmaand aangebied.
Die skool is veral dankbaar teenoor die assistente en borge se entoesiasme en bereidwilligheid om die jeugweek tussen 17 en 20 Junie met ywer aan te pak.
Die program het aktiwiteite soos toutrek, sakresies, warm etes en ‘n potgooi onder leerders in die intermediêre fase ingesluit met die tema “Motiveer leerders om hul skoolloopbaan te voltooi”.
“Die weersomstandighede het ons nie teruggehou om met die program voort te gaan nie, want ons het die Here vertrou vir wanneer ons buite sou wees dat die weer ook mooi sou uitdraai, en dit het so gebeur,” het die assistant Alexander Diedericks gesê.

“Leerders het die geleentheid gekry om te leer om saam te werk en aan te hou werk aan wat hulle graag wil bereik. Dit was ‘n fantastiese ervaring om terug te kon ploeg in die skool waar baie van ons assistente vandaan kom,” het hy trots bygevoeg.
Die skoolhoof, Rhona Peters, het die assistente vir ‘n suksesvolle jeugweek bedank. “Baie dankie dat julle klein hartjies bly kom maak en elke gesiggie laat straal het.”
Die onderwysassistente het op hul beurt hul dankbaarheid teenoor die skoolhoof en personeel uitgespreek, wat hulle vertrou het om die jeugweek vir die leerders se pret en plesier te reël. “Ons dank die hemelse Vader vir die kwartaal waardeur Hy ons gedra het. Daar was goeie dae en slegte dae vir beide onderwysers en leerders, maar deur alles was die Here vir ons goed.”



You must be logged in to post a comment.