Die program vir die Suidoosterfees, wat vanjaar van 27 April tot 1 Mei 2022 by die Kunstekaap-teaterkompleks in Kaapstad aangebied word, is pas bekend gemaak.
Feesgangers kan uitsien na ’n groot verskeidenheid items wat in almal se smaak sal val. Dit sluit teater, dans, musiek, komedie en boekgesprekke in, met van die land se voorste gevestigde én opkomende kunstenaars wat optree.
Aangrypende dramaproduksies is in die NATi-teaterfees-program ingesluit.
Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots speel in Philip Rademeyer se Opdrifsel, en gaan gewis feesgangers se hartsnare roer. Frank Opperman is te sien in Ek wens, ek wens, gegrond op Zirk van den Berg se bekroonde boek. Die gewilde Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse speel in Mutton Hour, ’n unieke produksie waarin kort stories oor liefde, verlies, hansworse en katte keurig tot ’n geheel saamgeweef is.
Ander hoogtepunte op die NATi-teaterfees-program is Herschelle Benjamin se Agulhasvlakte met Kay Smith, René Cloete en Wilhelm van der Walt, en Ferdinand Bekker se Dis 20:15 met Waldemar Schultz en Brendon Daniels.
Die NATi- Jong Sterre, een van die Suidoosterfees se vlagskipprojekte, word aangebied in samewerking met NATi, die Jakes Gerwel-stigting, Kunstekaap en die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur. Vyf tekste deur dié nuweling-dramaturge debuteer by vanjaar se fees: Stephren Saayman, Heloïne Armstrong, Melissa Myburgh, Jane Mpholo en Henque Heymans.
’n Nuwe afdeling op die feesprogram, NATi Jeugteater, fokus op produksies van skoolleerders en studente. Feesgangers en jong teaterliefhebbers kan uitsien na drie produksies wat as wenners by die ATKV-tienertoneel aangewys is. Studente van die Universiteit Stellenbosch, die Northlink Kollege en CPUT bring ook hul opvoerings na die feesverhoog.
Die ATKV-tienertoneel-pakket bied uitstekende geleenthede teen slegs R1 000 aan: toegang tot ’n magdom topproduksies by die fees, asook werksessies wat aangebied word deur veterane in die bedryf soos Cintaine Schutte, Brendan Daniels, Gaerin Hauptfleish, Frank Opperman en Antoinette Kellermann.
Nataniël se aanhangers gaan uit hul vel spring oor sy optrede in Moscow, wat ’n Kaapse draai by die fees kom maak.
Internasionale jazzdag op 30 April val weer in die feestyd, en liefhebbers van dié genre kan uitsien na eg Suid-Afrikaanse klanke in Jika – Sounds of the SA Jazz Real Book, waarin inheemse jazz-genres soos kwêla, ghoema, mbaqanga, sopvlei en tsaba-tsaba gevier word.
Mense wat mal is oor boeke en letterkunde, kan uitsien na die Jakes Gerwel-stigting en die ATKV se gespreksreeks, wat vanjaar met 13 aanbiedinge pronk. Alle gesprekke is gratis, maar weens Covid-19-regulasies is net beperkte sitplekke beskikbaar en plek moet by theo@jgf.org.za bespreek word.
Marita van der Vyver kom gesels onder meer met Cintaine Schutte oor haar ontroerende jeugmemoirs, ’n Baie lang brief aan my dogter.
Ronelda Kamfer praat ook oor haar debuutroman, Kompoun, en Audrey Jantjies gesels oor haar boek, As die katjiepiering blom.
Ander skrywers op die program is Diana Ferrus, Bronwyn Davids, Shana Fife, Jonathan Ancer, Chris Whitfield, Ismail Lagardien, Ivan Johnson, Kirby van der Merwe, Jeremy Vearey, Anzil Kulsen, Hlumelo Biko en Philip Rademeyer.. Besoek www.suidoosterfees.co.za vir die volledige program. Kaartjies kan by Computicket bespreek word.