Die Suidoosterfees vind vanjaar van Woensdag 27 April tot Sondag 1 Mei in die Kunstekaap-teaterkompleks in Kaapstad plaas.
Feesgangers kan uitsien na ’n groot verskeidenheid items wat in almal se smaak sal val. Dit sluit teater, dans, musiek, komedie en boekgesprekke in, met van die land se voorste gevestigde én opkomende kunstenaars wat optree.
Aangrypende dramaproduksies is ingesluit op die NATi-teaterfees-program. Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots speel in Philip Rademeyer se Opdrifsel en gaan gewis feesgangers se hartsnare roer. Frank Opperman is te sien in Ek wens, ek wens, gegrond op Zirk van den Berg se bekroonde boek. Die gewilde Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse speel in Mutton Hour, ’n unieke produksie waarin kort stories oor liefde, verlies, hansworse en katte keurig tot ’n geheel saamgeweef is.
Bientang: bloedspoor/!nau, ’n musiekteaterproduksie gegrond op Jolyn Phillips se bekroonde digbundel, handel oor een van die laaste strandlopers – ’n khoi-vrou wat in ’n grot gewoon het en met diere kon praat.
Ricardo Arendse se Die halwe huis is ’n eenmanstuk met Marlo Minnaar, en die regie word deur Lee-Ann van Rooi behartig.
Drie gewilde Suidooster-sepiesterre – Christian Bennett, Dean Smith en Gantane Kusch, speel in Koeksusters, ’n komediedrama wat handel oor die plaag van geslagsgebaseerde geweld wat Suid-Afrikaners aanhou teister.
Die NATi Jong Sterre, een van die Suidoosterfees se vlagskipprojekte, word aangebied in samewerking met NATi, die Jakes Gerwel Stigting, Kunstekaap en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport. ’n Nuwe afdeling op die feesprogram, NATi Jeugteater, fokus op produksies van skoliere en studente. Feesgangers en jong teaterliefhebbers kan uitsien na drie produksies wat as wenners by die ATKV-Tienertoneel aangewys is. Studente van die Universiteit Stellenbosch, Northlink Kollege en CPUT bring ook hul opvoerings na die feesverhoog.
Nataniël-aanhangers gaan uit hul vel spring oor sy Moscow, wat ’n Kaapse draai by die fees kom maak. Verskeie ander musiekproduksies gaan die feesverhoog ook met kleur en klank vul.
Spesiale afslagpakkette wat verblyf en kaartjies na vertonings insluit, is beskikbaar vir besoekers wat graag na die Moederstad wil wegbreek en gehalte-vermaak by die fees wil geniet. Inligting hieroor is op die feeswebwerf beskikbaar.
Vir die volledige program, besoek www.suidoosterfees.co.za. Kaartjies kan by Computicket bekom word.
Die Suidoosterfees word ondersteun deur die nasionale departement van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.