Stryd van die bewaarskole

’n Heerlike oggend het hom Saterdag 5 Maart by Riversidepark tussen twee dagsentrums in Macassar afgespeel.


’n Heerlike oggend het hom Saterdag 5 Maart by Riversidepark tussen twee dagsentrums in Macassar afgespeel.

Almal was opgewonde en in afwagting vir die titaniese stryd tussen die Little Angels Daycare van Firgrove en Carmen’s Daycare van Macassar.

Die assistente van die twee instellings het die veld sommer douvoordag gereed gekry en die ouers het reeds vroeg opgedaag in afwagting op ’n genotvolle oggend se atletiek.

Ná die ontwrigtende impak wat die Covid-19-pandemie op alle vlakke van die samelewing gehad het, was dit absoluut wonderlik om te kon aanskou hoe hierdie sportdag tussen die peuters ’n aanvang neem.

Die groot skare toeskouers het hulle gate uit geniet met die soms komiese oomblikke waarmee die kinders gereeld vorendag gekom het.

Dit het soos ’n “derby” gevoel toe die kleuters van Little Angels Daycare en Carmen’s Daycare die veld agter hul onderskeie spanbaniere betree om dinge uit te spook en mekaar op hierdie heerlike sonnige oggend die stryd aan te sê.

Getooi in hul spanne se onderskeie uitrustings het die emosies behoorlik geseëvier deurdat sommige van die jong atlete sommer vryelik trane gestort het.

Die mammas moes maar troos en verduidelik dat alle suksesvolle atlete ’n traantjie voor die aanvang van só ’n groot gebeurtenis stort.

Buiten die atletiek was daar heelwat ander aktiwiteite op die veld.

Stuart Afrika, Macassar Our Pride se programaanbieder, het onderhoude met verskeie ouers gevoer, onder wie Theo Booysen (areabestuurder, Stad Kaapstad) en Micka Alexander (die bekende radio- en televisiepersoonlikheid).

Verversings is ook deur die dag deur die verskeie kleuterskole te koop aangebied.

Die verskillende items was werklik genotvol vir die toeskouers met die kindertjies wat onder die aanvoering van hul ouers en hul juffroue gehardloop het.

Die groot skare was in ekstase met nie net die wenners nie, maar ook al die kleuters wat hul staal gewys het.

Van die ouers het ook later gewys wat in hulle steek en party het mekaar die stryd vir ’n paar items aangesê.

Die geleentheid is afgesluit met die prysuitdeling, en beide instansies het ná ’n wonderlike gebeurtenis as die wenners uit die stryd getree.

Melony Jefthas en Carmen Roodt, die hoofde van Little Angels Daycare en Carmen’s Daycare, het hul dank en waardering uitgespreek teenoor almal wat tot die sukses van die oggend bygedra het. “Baie dankie vir al die vrywilligers wat ons gehelp het, asook die beskikbaarheid van die sportgronde.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.