’n Waarskuwing oor die moontlikheid van bloublasies en seeslange op strande langs die kus, het die afgelope Vrydag die ronde op sosiale media gedoen.
Die waarskuwing aan strandgangers, wat van plan was om die lekker weer by die see te gaan geniet of met hul honde op die strand te gaan stap, is deur die Houtbaai-reddingssentrum vir robbe uitgereik.
Dié kennisgewing het ’n beroep op strandgangers gedoen om versigtig te wees weens die moontlikheid van ’n groter aantal bloublasies en geelpens-seeslange langs die kus.
“Die sterk winde het versoorsaak dat bloublasies en moontlike geelpens-seeslange op die strande kan uitspoel. Dié twee seespesies hou ’n groot gevaar vir mense en hul troeteldiere in,” lui die waarskuwing. Bloublasies is baie giftig weens tetrodotoksien, wat noodlottig van aard kan wees wanneer ingeneem word.
Die geelpens-seeslang is op sy beurt volgens die Boland se gewilde slangvanger Eduanne Niemand uiters giftig en gevaarlik, hoewel nie aggressief nie.
Junré Marais, die stasiebevelvoerder van die NSRI in Yzerfontein, meen hoewel bloublasies van tyd tot tyd op die strand gewaar word, is onlangs nog geen geelpens-seeslange op dié strand gesien nie.