Kalbaskraal, die landelike dorpie duskant Malmesbury het verlede naweek in ‘n bloedbad ontaard soos bendelede glo vir die soveelste keer met vuurwapens onder mekaar losgebrand het.
Inwoners meen geweld en moord vier al vir meer as ‘n jaar hoogty in hul dorp te midde van pogings om die misdadigers vas te trek. Lede van die polisie se eenheid vir openbare orde in samewerking met die Malmesbury-polisie het Maandag 10 en Dinsdag 11 November op Kalbaskraal toegesak in ‘n poging om die huidige bendegeweld in dié dorp aan te spreek.
Dít nadat die lewe van nóg ‘n jong mens die vorige aand (9 November) weens bendeverwantemisdaad geëis is. Nigel Booysen (23) van Denneboomlaan is Sondagaand noodlottig geskiet, het die plaaslike polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt bevestig. Hy was na bewering ‘n lid van die Outlaw-bende. Nog ‘n persoon is daardie aand weens ‘n skietvoorval gewond, terwyl ‘n 14-jarige meisie op haar beurt met ‘n mes in die slaap gesteek is.
Sy sterk tans nog in die Tygeberg-hospitaal aan. Die presiese omstandighede rakende dié aanval is nog onduidelik.
Volgens Du Randt het bendegeweld die afgelope week geweldig toegeneem. “Daar is op mense geskiet waarvan party doodgeskiet is.” Verskeie voorvalle van lukrake skietvoorvalle het die afgelope maand in Kalbaskraal afgespeel waartydens sommige mense ernstig gewond is. Talle sake van pogings tot moord is by die polisiekantoor geopen.
Die polisie kon egter daarin slaag om altesaam nege verdagtes gedurende Sondagaand en Maandagoggend in hegtenis te neem. Elke verdagte is intussen borgtog geweier en bly in aanhouding nadat hulle in die landdroshof op Malmesbury voorgekom het.
Du Randt het bevestig ‘n huis het wel ten tyde van die moord Sondagaand afgebrand.
Hy het bewerings op sosiale media, asook dié wat deur sommige politieke partye versprei word rakende die voorval, verwerp. “Daar is beweer dat die eienaar van die betrokke huis aan die binnekant met ‘n ketting vasgemaak en aangerand is toe die huis aan die brand gesteek is. Die huis was wel aan die brand gesteek, maar die eienaar was nie aangerand of vasgemaak gewees nie. Geen klag van brandstigting is deur die eienaar aanhangig gemaak nie,” voeg hy by.
Inwoners is op WhatsApp-groepe gemaan om binnenshuis te bly en hul kinders veilig te hou soos die lede van POPS huise binnegebars het. Die vlieg van rubberkoeëls en traansgas was aan die orde van die dag. Die polisie het verdere bewerings van ‘n jong meisie wat deur ‘n rubberkoeël getref is, ook verwerp. Die situasie in Kalbaskraal het intussen bedaar en is onder beheer, hoewel lede van die polisie steeds teenwoordig is om die gebied te bly monitor.
Die polisie het in reaksie op inwoners wat die SAPD kwalik neem vir die tragiese gebeure, gesê hulle sal altyd in die spervuur wees en blameer word. Inwoners voel die polisie het nie betyds opgetree en ingetree om die bende-aktiwiteite stop te sit nie. “Dissipline begin egter by die huis. Die polisie sal aanhou blameer word as die gemeenskap nie eienaarskap van hulle gemeenskap neem nie,” voeg hy by.





