The Aurum Institute, ’n navorsing- en gesondheidsorganisasie, nooi inwoners op die dorp om hul inenting teen Covid-19 by hul opwip-lokaal (“pop-up”) by die De Bron-sentrum in Malmesbury te kom kry.
Volgens Jean Pierre Alias, projekkoördineerder vir Aurum in die Wes-Kaap, is dit net een van die talle inentingslokale in die Weskus-distrik wat hulle in samewerking met die departement van gesondheid opgerig het.
Hulle dien beide die Johnson & Johnson- en Pfizer-entstof toe. sowel as die versterkingsinenting (“booster”) vir albei.
Registrasie vind plaas in ’n buite-wagruimte by die onderdakparkering, waarna mense na binne gelei word om ingespuit te word. Mense wat hulle wil laat inent, kan Dinsdae tot Donderdae tussen 08:00 en 15:30 by die sentrum aanmeld, en geen afspraak is nodig nie.
“Ons spuit mense wat vir hul eerste keer kom sowel as dié vir hul tweede Pfizer- of versterkingsinenting. “Die J&J-versterkingsinenting is twee maande ná hul ent en die Pfizer ses maande ná die tweede inenting; kinders van 12 – 17 jaar oud moet ses weke ná hul eerste Pfizer-ent wag.”
Alias herinner mense dat jy nie hoef te wag vir ’n SMS om jou versterkingsinenting te kry nie; dit moet net binne die tydperke wees soos hierbo deurgegee. “Die inentings is gratis en mense wat meer inligting wil hê, is welkom om ons te besoek.”
“Onthou jou identiteitsdokument en waar moontlik jou vaksienkaartjie,” maar, sê Alias, “as mense nie hul kaartjie het nie, het ons mense wat hul inligting op die rekenaarstelsel kan trek om te bevestig of hulle vir ’n inspuiting kwalifiseer.”
’n Suster is ook aan diens om te verseker dat die proses glad verloop, en ’n wagperiode van 15 min geld nadat die ent toegedien is. Die entstof word van die Swartland-hospitaal af verkry.
Oor hul betrokkenheid sê Alias: “Dit is ons manier van teruggee en gemeenskapswerk doen om bewusmaking oor The Aurum Institute te skep. Ons is ’n navorsing- en gesondheidsorganisasie wat met verskeie projekte werk. Ons is tans ook betrokke met die TB-LON Program (TB Local Organisations Network) wat deur USAID finansier word. Dit is ’n tuberkulose (TB)-projek waar ons spesifiek op plase en die TB-gevalle op plase fokus. Ons sif mense vir TB, en as hulle simptome het, kan ons op die plek daarvoor toets. Ons doen ook verwysings na klinieke,” verduidelik hy. Alias sê hulle spoor ook mense op wat op TB-medikasie was, maar dit om die een of ander rede gestaak het, en sien toe dat hulle weer op dreef kom met hul behandeling.
“As iemand in die huis TB het, moet die kontakmense van daardie pasiënt ook opgevolg word, en ons maak seker dit gebeur. Ons verseker ook en vra dat ouers asseblief moet toesien dat kinders onder vyf jaar, wat in ’n huis is waar iemand TB het, na die kliniek gaan vir ’n TB-toets en indien negatief, dat hulle op medikasie gesit word wat verhoed dat hulle TB opdoen.”
- Vir meer inligting besoek gerus The Aurum Institute op die webwerf www.auruminstitute.org of op sosiale media: