Soos baie kinders, droom ’n broer en suster ook van speelgoed wat Mamma nie bereid is om te koop nie. Met dryfkrag vir ’n sakgeldjie om mee te begroot, het hulle toe ’n blaadjie uit die lewe se boek gehaal en soos Mamma besluit om te werk vir dit wat hulle wil hê.
Met ’n entrepreneur vir ’n ma wat uitblink as voorbeeld, het Ouboet en Sussie* met die blink idee vorendag gekom om hul gesin se gedeelde passie in ’n bron van inkomste om te skep. Só het dié sibbe besluit om koppies bymekaar te maak en plantjies daarin te plant om te verkoop.
“Hulle werk vreeslik hard en is so opgewonde oor elke bestelling wat inkom,” spog Kobie Abrie, hul trotse pleegma.
Dié ouer, wat vir ’n ekstra inkomste unieke, handgemaakte kostuumjuweliersware aanlyn verkoop, sê sy bied haar steun met liefde aan dié twee aspirante entrepreneurs. Sy doen saam navorsing, meng die grond, herinner hulle om hul plantjies nat te hou, soek aanlyn vir nog koppies en hanteer bestellings.
“Ek’s basically hul assistent,” het sy grappenderwys vertel.
Maar, sy is ook aan hul sy wanneer hulle met die plantjies werk, indien hulle ’n ekstra hand of enige leiding benodig.
Volgens Abrie is die tweetjies natuurlik meer gemotiveerd met Mamma wat hulle van die kantlyn af aanmoedig.
Sy meen haar 12-jarige seun en sewejarige dogtertjie se inisiatief is besonders en merkwaardig, veral omdat dit die verhaal van groei letterlik en figuurlik uitbeeld.
“Ons praat gereeld van groei, waar hulle vandaan kom en waarheen hulle op pad is. (Natuurlik, ouderdom-toepaslik). En die vetplantjies groei lekker vinnig, dus hou dit hulle geïnteresseerd. Wanneer hulle plant en hul handjies is besig, dan dwaal die gedagtes ook vrylik en ons het soms die beste gesprekke om die plantjies.”
Op die vraag hoekom juis vetplante, het Abrie verduidelik dié plantjies bied ’n groot verskeidenheid, groei maklik en benodig nie baie instandhouding of versorging nie. Boonop maak dit die mooiste prentjie wanneer hulle saam geplaas word.
Benewens die twee kleingoed se skynbare passie, is dit Sussie wat groenvingers het en Ouboet wat daarvan hou om sake te doen.
Vir insig oor watter soort kinders hulle is, het Abrie vertel: “Boeta is ’n diep denkende, liefdevolle seun, wat altyd help waar hy ’n behoefte sien. Sussie is ’n vreeslike ekstrovert, maar ’n goeie vriendin vir haar maatjies. Sy het diep lief en laat almal altyd gemaklik en tuis voel. En sy laat ons lag!”
Sy het verder vertel Ouboet se groot droom is om eendag menselewens te red. Hy is ’n baie goeie en sterk swemmer en wil dus ’n menseredder wees. Sussie sê al van baie kleins af dat sy ’n “hospitaal-tannie” wil word, wat sinvol is omdat sy so baie deernis het en net wil versorg.
Die ouer, wat as leermeester dien, het dié twee ’n pluimpie gegee vir hul inisiatief.
“Ons werk vir wat ons wil hê, hoewel dit nie altyd lekker is nie, en soms moeilik is. Maar, doen wat jy geniet. Laat God jou lei. Vra Hom en vertrou Hom (hulle het). Maak klaar wat jy begin het.
“Ons plant gereeld; jy kan dit nie net een keer doen en dan nie meer lus wees nie. Wees lojaal teenoor jou klante,” het sy gedeel.
Vir die sibbe se merkwaardige sake-inisiatief om voort te duur, vra hulle groot asseblief dat enigiemand wat in staat is, om hulle met plantjies, koppies en pierings – waarvoor hulle desperaat is – te ondersteun.
Abrie het verduidelik dat hulle in hierdie stadium gebruik maak van die grond en koppies wat sy as geskenke gekry het, maar namate die onderneming groei, sal hulle self die koste begin dek.
“Ek is soos die bank – ek het hulle ’n bietjie geld vir die start-up geleen,” het sy gesê.
Volgens Abrie het hulle nog nie vir die langer termyn oor hul entrepreneurskap gedink nie, maar vir nou is dit net om die speelding te koop wat hulle gesien het. En die tweetjies neem hulle voor dat hulle vir hul eie buitemuurse aktiwiteite wil betaal. Boeta vir ekstra swemlesse en Sussie vir ballet. “Ons gesin gee graag, so ek sal wil sien dat hulle ’n deeltjie van hul wins wegsit om iemand anders mee te help,” het sy gesê.
Tot dusver het hulle nog net 10 plantjies verkoop, maar daar is baie navrae.
“Wanneer hulle hoor daar’s nog ’n bestelling, raak hulle sommer baie opgewonde! En Mamma moet maar motiveer en komplimente uitdeel. Sussie floreer op aandag, so, as ek ’n fuss maak, sal sy aanhou en aanhou!”
Abrie het die volgende boodskap om met die gemeenskap te deel: “Dink weer wanneer jy die kind wat by die verkeerslig staan en bedel, sleg sê of afjak. Moenie vir hom geld gee en sodoende op straat hou nie, maar neem hom in pleegsorg en leer hom wat liefde en familie is. Elke kind verdien dit. En hulle sal vir jou sê ‘ons karakter groei wanneer mamma nie net gee en gee nie’.”
Mense wat iets wil skenk of benodigdhede teen ’n bekostigbare tarief wil verkoop, kan Abrie by 082 560 6488 bel. * Nie die kinders se regte name nie; dit word weerhou en hulle word broer en suster genoem omdat hulle in pleegsorg is.