Vervolg van bladsy 1
Sy het toe geloop en later die middag teruggekom. Volgens die getraumatiseerde moeder het sy voor 18:00 by die huis aangekom. Met haar terugkeer het Diego steeds buite in die pad gespeel.
Sy is ’n rukkie later uit om hom te roep. Dis toe dat die man oorkant die pad vir haar sê haar seun en ’n maatjie het in die pad afgeloop.
Sy vertel: “Die man sê toe vir my, ‘Sanna, hy was nou net hier gewees. Maar hulle is hier in die pad af. Hy is saam met ’n klonkie in die pad af.’”
Die twee seuns is glo speel-speel met ’n bal in die pad af.
Adonis sê sy het dadelik na haar seun begin soek, maar toe die krag weens beurtkrag afgaan, het sy teruggekeer huis toe. Sy het voorts gemeld dat haar seun nog nooit uitgeslaap het nie.
“Hy kan maar waar ook al gespeel het, hy kom altyd huis toe,” het die ontstelde moeder gesê.
Volgens Adonis het sy haar seun die volgende dag, Donderdag 5 Mei, by die Montagu-polisie as vermis gaan aanmeld.
Gazette het Pienkie, wat verder af in die pad woon, by sy huis opgespoor. Sy regte naam is Adolf Matthee en hy het bevestig dat hy na Diego omsien wanneer dié se ma bedags werk.
Volgens Matthee het hy ’n paar dae terug Diego se hare gesny.
Hy het ook genoem toe hy verneem Diego is weg, het hy dadelik in die omgewing na hom help soek.
Gazette het ook die ander seun, wat glo saam met Diego gespeel en in die pad afgestap het, daar aangetref. Hy is agt jaar oud en ofskoon sy naam aan die koerant bekend is, word dit weens die sensitiwiteit van die aangeleentheid nie bekend gemaak nie.
Volgens die maatjie het hy, nadat hy en Diego klaar gespeel het, huis toe gegaan en Diego het voor die huiswinkel, wat ook in dieselfde pad op die hoek geleë is, gaan sit.
Hy is na bewering nie weer daarna gesien nie.
Op die dag van sy verdwyning het Diego ’n blou langmoutopie met swart moue, ’n rooi hempie met ’n kraag en ’n ligblou sweetpakbroek, wat by die knieë stukkend is, aangehad.
Hy was kaalvoet.
Hy het krulhaartjies, waarvan dié langs die kante afgesny is.
Gazette het saam met Pekeur na ’n plek in Ashbury gegaan waar ’n paar mense bymekaargekom het om na die vermiste seun te help soek.
Ella van Zyl van die Montagu-gemeenskapsforum, wat deel van die soektog was, het gemeld dat hulle op ’n gat in ’n sandwal naby die Kingnarivier afgekom het.
Daar was ’n hopie los grond oor met ’n stank wat in die lug hang.
Die polisie is gekontak, wat die gat oopgegrawe het. Tot groot verligting van die aanwesiges was dit die karkas van ’n dooie hond in ’n plastieksak wat daar begrawe is.
Die soektog is toe voortgesit.
By navraag by die plaaslike polisie het AO Suria Meyer, ’n woordvoerder van die Montagu-polisie, bevestig die negejarige Diego Adonis is Donderdag 5 Mei as vermis aangemeld.
Sy het gesê alle leidrade en inligting word opgevolg.