Met motors wat by die dag slimmer raak is daar allerhande variasies en konfigurasies van brandstof-inspuiting, turbo-aanjaers en kleppe wat verstommende werkverrigting en brandstof-ekonomie uit relatief klein enjins haal. Die nuwe Tiguan-reeks – nou ook met drie diesel-enjins – gee hier die pas aan.
? Groot gesprekspunt van die nuwe, tweede geslag VW Tiguan is die top silinder-tegnologie van die 1.4-liter petrol Comfortline DSG (sesgang outomaties) TSI wat met sy direkte-inspuiting turbo-aangejaagde reguit viersilinder 110 kW en 250 Nm wringkrag lewer.
Om jou rande te rek, het hy silinder-deaktivering wat tydelik die tweede en derde silinder afskakel wanneer hul krag nie nodig is nie, byvoorbeeld teen lang afdraande of gelykpad. Dit hang af van jou rystyl en geskied onwaarneembaar, behalwe dat dit aangedui word op die inligtingskerm wanneer jy in die Eco-modus ry. Jy kan ook kies tussen Comfort, Normal en Sport, met renmotorstyl-flappies agter die stuurwiel vir kits-ratverwisseling.
Daar is ook twee handrat-modelle, die 92 kW Trendline en Comfortline, met ? 1.4-liter turbo-aangejaagde petrolenjins van 92 kW en 200 Nm met sesgang-transmissie. Hierdie kragbronne het almal vier kleppe per silinder, met BlueMotion-tegnologie wat stop / ry-funksies het om brandstofverbruik en emissies te verminder.
Warm nuus vir die woema-soekers is dat die 2.0 TSI Highline 4Motion DSG 2.0 TSI (petrol) met 162 kW einde verlede jaar bygekom het en letterlik dié week het drie 2.0 TDI-modelle bygekom met kragleweringsopsies van 81 kW, 105 kW en 130 kW – almal met 4MOTION-viertrek as standaard. Met die skryf van hierdie was die wringkragsyfers nie beskikbaar nie.
Die brandstofverbruik van die 110 kW Comfortline wat deur die vervaardigers vir toetsbestuur beskikbaar gestel is, word aangegee as 6.1 liter / 100 km, met versnelling van 9.2 sekondes van 0–100 km / h. My ervaring op ? naweekuitstappie van meer as 400 km na die Overberg – vol berge en klowe en met ons gebruiklike bergbagasie – was ? steeds indrukwekkende 7,9 liter-verbruik volgens die gevorderde ritrekenaar.
Hantering was pure plesier, met wakker kraglewering, soomlose rat-skakeling en heerlike hantering. Selfs met daardie opsionele 19 dm allooi-wielvellings en lae profiel-bande, was die vering soepel en gerieflik op erg uitgeryde grondpad-seksies.
’n Mens was half bekommerd oor die moontlike risiko van daardie lae, chroombelaaide sierrooster van die spesifieke model se spoggerige R-Line pakket, maar dit het geblyk onnodig te wees met die 189 mm grondvryhoogte.
Hierdie pakket, teen R18 000 ekstra, gee daardie iets ekstra vir die oog teenoor die meeste mediumgrootte sportnutse sonder om uitspattig te wees. Dit maak hom ook van die mees gesofistikeerde in sy klas, onder meer met ? panoramiese sondak, elektroniese ontsluiting-sleepstang, outo-geaktiveerde agterluik, top klankstelsel en selfoon/app/media hiperaktiwiteit, LED-hoofligte en aanpasbare spoedbeheer wat beteken dat hy outomaties volgafstand kan hou.
Die instrumentasie in die hoofhuls agter die interaktiewe stuurwiel, is digitaal benewens die handige inligting en beheer via die sentrale 6,5 duim infotainment-raakskerm.
Die nuweling is 6 cm langer as die vorige model, wat in 2008 die lig gesien het. Dit beteken dat daar beduidend meer spasie vir passasiers en bagasie is, met ? magdom handige pakplekkies. Die bagasieruim kom te staan op 520 liter, wat ongelukkig net plek vir ? plat spaarwieletjie laat.
Die voorste sitplekke, met heerlike Vienna-leerbekleedsel, is albei elektronies verstelbaar, met vernuftige geriefsakkies en uitvou-tafels aan die rugkant.
Die nuwe Tiguan beïndruk met sy balans van die luukse en praktiese, asook die gehaltegevoel en gevorderde veiligheidskenmerke met vyfster Euro NCAP-kwalifikasie – alles in sportiewe, stylvolle voorkoms.
Tiguan 1.4 TSI Trendline 2WD BMT Handrat 92 kW – R384 100
Tiguan 1.4 TSI Comfortline 2WD BMT Handrat 92 kW – R425 300
Tiguan 1.4 TSI Comfortline 2WD BMT DSG 110 kW – R465 000
Tiguan 2.0 TSI Highline 4Motion DSG 162 kW – R542 200
Tiguan 2.0 TDI Comfortline 2WD Handrat 81 kW – R469 500
Tiguan 2.0 TDI Comfortline 4Motion DSG 105 kW – R523 800
Tiguan 2.0 TDI Highline 4Motion DSG 130 kW – 549 500
? 5 jaar / 90 000 km diensplan is standaard en so ook 3 jaar / 120 000 km waarborg, met 12 jaar anti-korrosie-waarborg.