Spesiale bederf vir boekwurms

Die Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers bederf boekwurms op 13 en 14 November met ’n uitstekende skrywersprogram.


Die
Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers bederf boekwurms op 13
en 14 November met ’n uitstekende skrywersprogram. Die jaarlikse Jakes Gerwel-gesprekke
word gratis by kykNET Atlantic Studios aangebied, en spog met gunstelinge soos
Deon Meyer, Antjie Krog, Diana Ferrus, Dana Snyman en Ryan Pedro.

Deon Meyer
praat met Elna van der Merwe oor sy nuwe trefferboek, Donker drif, en Dana
Snyman gesels met Erns Grundlingh oor sy 100 gunstelingstories wat in die
bundel Onder een dak opgeneem is. Nuwe lig word gewerp op die verhaal
agter Nelson Mandela se vrylating tydens ’n gesprek tussen Riaan de Villiers en
Jan-Jan Joubert. Vir die boek Prisoner 913 het skrywers Riaan de Villiers
en Jan-Ad Stemmet in voorheen geheime rekords oor die oudpresident gedelf.

Ivor Swartz se aangrypende verhaal, Die verlore
seun vannie Gaatjie
, kom onder bespreking wanneer die skrywer deur Frazer
Barry uitgevra word. In Vers en vrou kom van Afrikaans se gewildste
digters byeen om te gesels en voor te lees. Digters soos Antjie Krog, Diana
Ferrus, Shirmoney Rhode en Truise Prinsloo word deur die uitgewer Nèlleke de
Jager oor die bloemlesing Vers en vrou gepols. Ryan Pedro, wie se
debuutbundel Pienk ceramic
hondjies
groot opspraak
verwek, is ook aan die woord.

Die jongspan sal
gaande wees oor Rafiek Mammon se Faizel en die sterreDié hartroerende verhaal gaan oor ’n seuntjie wat sy
pa en die lewe met moeite in die oë kyk omdat hy “anders” is.
  

In Grendeltyd in woorde deel Sara Jayne King, Kelly-Eve Koopman,
Jonathan Ancer en Tracy Going menings oor die gewraakte Covid-19-virus wat die hele wêreld
op sy kop gedraai het. Hulle boek Lockdown Collection kyk na die
emosionele, spirituele en selfs humoristiese aspekte van die gevreesde pandemie
wat soos ’n veldbrand versprei.

 

Willem
Anker, wat onlangs op die langlys van die gesogte Bookerprys was, kom praat oor
sy jongste roman, Skepsel. Tertius Kapp vra Anker uit oor die boek wat
deur kritici hoog aangeprys word. SJ Naudé beskryf Anker se boek as “’n roman
wat ’n mens treiter en verbaas en verontrus en van vreemde dinge leer.”

 

Kom ervaar Afrikaans se voorste
skrywers by die Suidoosterfees en verruim jou perspektief op die wêreld. Alle
gesprekke is gratis, maar sitplekke is beperk. Om teleurstelling te voorkom, bespreek
nou by Francois.Abrahams@media24.com. Vir die volledige program, besoek www.suidoosterfees.co.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.