’n Opkomende jong sokkerspeler van Malmesbury het die afgelope Sondag na Spanje vertrek vir ’n geleentheid van ’n leeftyd. Bronwill Samson (20) het maar eers op 16 by die plaaslike Malmesbury- Spur Players-sokkerspan aange-
sluit. Die gogga vir die spel het behoorlik gebyt, só dat Bronwill besef het hy wil eendag ’n loopbaan daaruit maak.
Sy droom om eendag ’n professionele sokkerspeler te word, het onlangs een tree nader aan die werklikheid gekom toe hy as een van slegs 22 aspirante spelers gekies is om ’n gesogte toer saam met die BT-sokkeragenstskap mee te maak. Die geleentheid het gekom nadat sy afrigter van vier jaar, Mariam Farao, en Bronwill ’n plasing oor proewe vir die twee weke lange toer op sosiale media raakgesien het.
“Ons het aansoek gedoen sodat hy aan die proewe kon deelneem. Bronwill is egter sommer uit die blokke gekies en geen verdere proewe was nodig vir die sokkeragentskap om hul finale keuse te maak nie,” vertel Farao trots. “Hy is ’n gerespekteerde jong speler, passievol oor sokker en het ook ’n baie goeie begrip van sportmanskap. Bronwill ontwikkel nog daagliks sy vaardighede,” sê Farao as afrigter.
Bronwill, wat tans as agterspeler vir die Swartland-
gemeenskapsportsentrum in die Hollywood Bets-liga speel, blink nie net uit op die sokkerveld waar hy al verskeie kere as speler-van-die-wedstryd aangewys is nie, maar ook as ’n suksesvolle 2023- YearBeyond @ HomeLearning YeBoneer-gegradueerde. “Sy harde werk, toewyding en prestasies laat hom bo die res uitstaan.”
Dié oudleerder van Schoonspruit Sekondêr beskryf die toer as ’n stappie nader aan sy droom. “My hoofdoelwit is om professioneel sokker te speel en ook om eendag ons land in die nasionale sokkerspan te verteenwoordig. Ek is op my rustigste en gelukkigste wanneer ek sokker speel en dit help my om te fokus op dit wat ek wil bereik,” vertel ’n opgewonde Bronwill, wat die geleentheid as ’n voorreg beskou. Hoewel hy nie tans studeer nie, hoop hy om eendag terug te gee deur ander jong spelers se vaardighede te help ontwikkel deur sy talent en kennis met hulle te deel.


