‘Span’ werk saam by ATM

’n Vrou van Riebeek-Kasteel is Saterdag 12 Februarie van R6 000 besteel terwyl sy geld by ’n ATM in Riebeek-Wes probeer trek het. Volgens die vrou, wat verkies om nie haar naam te noem nie, het sy probeer om geld te trek, maar haar kaart het vasgesit


’n Vrou van Riebeek-Kasteel is Saterdag 12 Februarie van R6 000 besteel terwyl sy geld by ’n ATM in Riebeek-Wes probeer trek het. Volgens die vrou, wat verkies om nie haar naam te noem nie, het sy probeer om geld te trek, maar haar kaart het vasgesit. ’n Man agter haar het gemaak asof hy sy hande ontsmet. Iemand anders het aan haar gestamp en toe sy weer kyk, was haar kaart weg. Sy vermoed ’n derde mens het dit op daardie blits-oomblik uit die ATM gegryp. Sy het dadelik haar bank gebel om die kaart te stop, maar sy het reeds ’n SMS-kennisgewing gekry wat gewys het R3 000 is uit haar rekening by ’n teller in Riebeek-Kasteel getrek, en ’n paar minute later nog R3 000 by dieselfde teller.

Die vrou sê egter haar maksimum limiet-onttrekking op haar rekening is net R3 000, en sy weet dus nie hoe dit gebeur het dat die skelms soveel geld kon onttrek nie. Sy het dit met haar bank opgeneem.

’n Klag van diefstal is intussen by die plaaslike polisie ingedien. Die voorval is op ’n kringtelevisiekamera vasgelê. ’n Kringtelevisiekamera by die teller in Riebeek-Kasteel wys ook hoe die vermeende diewe die geld onttrek.

In nog ’n voorval is ’n drankwinkel in Hermon deur drie mans beroof. Die mans is ook op ’n kringtelevisiekamera afgeneem en het in dieselfde fabrikaat motor as dié by die ATM-voorval gevlug – ’n blou Toyota. Enigiemand met inligting kan die Riebeek-Wes-polisie skakel. – Samuel Walters

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.