Never Despairs het Saterdag (14 Mei) die opmars van Darling se melkboere in ’n klipharde wedstryd van die Boland-Grootuitdaagbeker in die Swartland-streek gestuit.
Die bulwedstryd is eers laat in die tweede helfte deur Spairs beklink toe die slot Delano Baartman teen die verloop van die spel ’n pragtige drie in die 30ste minuut van die tweede helfte gedruk het om ’n oorwinning van 16-12 te verseker.
Die verloor is ’n harde slag vir die melkboere, wat in die Swartland-streek goed geplaas was. Die wipplank-wedstryd is in die eerste helfte deur strafskoppe beheer deur die losskakels wat elk drie skoppe oorgeklits het, wat die rustydtelling op 9-9 elk te staan gebring het.
Ná rustyd het Spairs en Darling met pragtige rolmaalbewegings vorendag gekom en die bal agterlangs gestuur. Rotsvaste verdediging aan beide kante het egter verhoed dat geen punte in die eerste 10 minute van die tweede helfte aangeteken is nie.
’n Paar goeie agterlynbewegings het die skare menige tye opgewonde gehad wanneer die agterlyne op loop gegaan het, maar dis waar dit ook gestop het aangesien dit telkens skipbreuk gely het.
’n Strafdoel deur Earl Lewis in die 20ste minuut het die melkboere die voortou laat neem vir ’n voorsprong van 12-9.
’n Vaste skrum is in die 30ste minuut aan Spairs in die 22 m-gebied van die melkboere toegeken. Spairs het die bal goed beheer, die agsteman het dit opgepik en vorentoe gedryf, wat tot ’n losskrum gelei het.
Spairs het egter die melkboere uitoorlê toe Baartman met die bal wegbreek en langs die linkerkantse pale vir die enigste drie van die wedstryd oorgeval het, waarna die drie deur Dugald Williams verdoel is.
Spairs is nou met dié oorwinning in die derde plek – een punt agter Wesbank en twee punte agter Abbotsdale, wat onderskeidelik tweede en eerste lê.
Dugald het ook geslaag met drie strafskoppe en ’n doelskop vir ’n persoonlike beste van 11 punte, terwyl Earl Lewis vier strafdoele vir Darling behaal het.
Ander uitslae:
Swartland
Moorreesburg 36-17 Saron Villagers;
Wittewater 19-34 Wesbank
Never Despair 16-12 Darling
Good Hopes 20-23 Abbotsdale
Porterville 41-25 Koringberg
Weskus-streek
Mamre 21-13 Piketberg
Young Hearts 17-13 Langebaan
Paternoster 18-13 Vredenburg
St. Helena 15-9 Saldanha
Hopefield 26-17 Velddrif