Met die eerste oogopslag, as na die nuutste misdaadstatistieke gekyk word, is ons nie veilig nie. Volgens misdaadstatistieke wat onlangs deur die polisie bekendgemaak is, het moord, ernstige aanrandings en huisbrake gestyg.
Drankmisbruik en ander sosio-ekonomiese omstandighede in die gemeenskap dra egter volgens die polisie grootliks by tot geweldsmisdade.
Polisiewoordvoerders is dit eens dat die meeste geweldsmisdade oor naweke plaasvind. Dit laat die gewone mens dalk ’n bietjie meer gerus voel, want die logiese gevolgtrekking is as mens ’n nugter, rustige lewe lei, die geweld vrygespring kan word.
Dit is dus nie ons almal se probleem nie, of is dit? Die onmiddellike reaksie van baie mense sal wees om die kop in die sand te steek en die sosio-ekonomiese probleme, wat ons mede-inwoners teister, te ignoreer.
Dit is inderdaad ’n vraag wat tot interessante debat kan lei. Waar begin en eindig ons sosiale verantwoordelikheid? Tot watter mate help ons en hoe kan daar onderskei word tussen mense wat hulself wil help en diegene vir wie hulp en bystand skynbaar geen verskil sal maak nie.
Die misdaadstatistieke is sprekend van wat in ons gemeenskap aan die gebeur is. Gesinsgeweld, dwelmmisbruik, drankmisbruik, werkloosheid en die gevolge van werkloosheid.
Mense is gefrustreerd en kwaad en die frustrasie word volgens kommentaar van die polisie op familie uitgehaal.
Dit wil voorkom asof sosio-ekonomiese probleme eers opgelos moet word voor misdaadstatistieke beter sal lyk