Waar sommiges 64 jaar as ’n leeftyd beskou, tel ’n egpaar van Kalbaskraal die jare in liefde af.

Jan (90) en Lea Solomons (87) vier vandag (5 Maart) hul 64ste huweliksherdenking – onder meer vanuit ’n donkiekar.

Jan en Lea se paaie het reeds as kinders op die plaas Swartwater buite Darling gekruis, waar hulle saam in die stof gespeel het.

Die liefde, wat reeds in hul tienerjare begin blom het, is op 5 Maart 1960 voor die kansel bevestig toe hulle in die Darling VGK-kerk getrou het. Jan was toe 26 jaar oud en Lea was 24.

Hulle het hulle as jong volwassenes in Dasenberg (Riverlands) gevestig, waar hulle nege kinders grootgemaak het. Albei het deur die jare op ’n plaas gewerk.

Vandag spog die Solomons met 22 kleinkinders en reeds 29 agterkleinkinders.

Die geheim tot ’n suksesvolle huwelik is vir hulle eenvoudig, voer die Solomons-egpaar aan. Hulle het 64 jaar gelede ’n belofte op hul troudag aan mekaar gemaak en dit ter harte geneem deur vir ewig en altyd aan mekaar se sy te bly staan en mekaar lief te hê. “Ons reis is nou na die beloofde land,” vertel hulle.

Jan en Lea deel graag raad met jong mense wat op pad is om in die huwelik te tree. “Storms gaan kom en gaan, maar bly by die belofte, dan seën die Here,” stem hulle met mekaar saam.

Die Solomons se huweliksdag-vieringe sluit ’n spesiale verrassing in. Volgens hul dogter Cathrine van Wyk het al die kinders ’n romantiese rit op ’n donkiekar deur die strate van die dorpie waar hulle die grootste deel van hul huwelik deurgebring het, vir vandag gereël. Daarna wag ’n heerlike ete op hulle saam met die res van die familie.

You need to be Logged In to leave a comment.