Maklik is die kernwoord vir hierdie wenresepte wat die nederige kragvrug, die piesang in al sy glorie vier.
Piesangmuffins
- Bestanddele:
• 4 baie ryp piesangs
• 200 ml suiker
• 1 geklitste eier
• 80 ml botter gesmelt
• 5 ml bakpoeier
• 5 ml koeksoda
• 5 ml fyn kaneel
• 375 ml meel
• 2 ml karamel-essens (plaasvervanger: vanielje-essens)
- Metode:
Druk die piesangs fyn.
Klits die eier, suiker en gesmelte botter saam.
Voeg die piesangs by.
Klits die karamel-essens by.
Sif die meel, bakpoeier en koeksoda by die piesangmengsel.
Klits alles saam.
Smeer ’n muffinpannetjie en maak die holtes 2/3 vol.
Bak vir 30 minute by 180 ºC
Maklik!
Piesangroomys
- Bestanddele:
• 8 piesangs, in ringe gesny
• 90 ml grondboontjiebotter
- Metode:
Plaas die vorige nag die piesangringetjies op ’n bakplaat in die vrieskas.
Haal die piesangs uit die vrieskas en laat hulle so effens versag. Plaas in ’n voedselverwerker. Blits tot glad.
Voeg grondboontjiebotter by.
Bedien in ’n mooi glasbakkie met fyn toffie en neutkrakeling.
Maklik!
Piesang-plaatkoekies
- Bestanddele:
• 1 piesang
• 2 eiers
- Nou:
Klits of versap alles saam.
Braai in vlak olie.
Dreineer op kombuispapier
Jy kan dit bedien met kaneelsuiker, stroop, heuning, jogurt of room. Dis ’n vinnige ontbyt of ’n happie vir die hongerte wat knaag.
Banoffee Trifles
• 30 ml rum
• 250 ml tropiese vrugtesap
• 2 piesangs
• 6 boudoir koekies
• 1 houer mascarponekaas
• 125 ml Caramel Treat
• 250 ml gekoopte vla
• 2 klein meringues
• Gekoopte sjokoladesous vir bo-oor drup
- Metode
Meng die rum en vrugtesap. Druk die boudoir koekies in die mengsel en pak onder in die glas.
Laat die piesangs nou in die rum-mengsel lê.
Plaas die piesangs op die koekies.
Skep nou ’n lagie karamel op die piesangs.
Klits die vla en mascarponekaas saam.
Sit nou ’n dik laag van die vla-mengsel op die karamel.
Krummel die meringue bo-oor en drup die sjokoladesous oor alles.
Bron: Marinda Kook (marindakook.co.za)