Só vergeet mense van C-19

Wat gebeur wanneer ’n veearts begin pampoenpitte verkoop – veral as die pitte Goliat van Gat heet?.


Wat gebeur wanneer ’n veearts begin pampoenpitte verkoop – veral as die pitte Goliat van Gat heet?

Pampoenpitverkope by Swartland-Noord se kerkbasaar in Oktober verlede jaar het die kompetisiegees in menige manne- en vroueharte laat opspring. Dis juis dié pampoensoort, wat in talle kompetisies oor die land heen gebruik word om die grootste pampoene te kweek. Die onlangse wenpampoen in Namibië het 87,5kg geweeg.

Almal het besef Oktober is ’n bietjie laat in die jaar om pampoene te plant, maar wie skrik nou vir koue pampoen? Daarom het ’n klompie groenvingers begin plant en van April af kon die pampoenboere hul bevindinge en foto’s op ’n WhatsApp-groep met mekaar deel.

Omdat die meeste aspirant-pampoenboere relatief klein pampoene geoes het, het iemand laat weet sy pampoen kort nog 895kg om by die Heidelberg-pampoenkampioen se 904,5kg te kom. Die meeste dorpenaars het gekla hulle het geen pampoen om te weeg nie, maar geweldig hoë waterrekeninge getuig dat hulle gewis probeer het.

Pampoenplante hou niks daarvan om herplant te word nie, laat weet sommige pampoenboere. “Ons het dit herplant vir meer skadu oor die Desembervakansie, maar dan vrek hulle eerder.”

Die aspirantboere het egter baie lesse geleer: Goliat van Gat dra soms baie blare en min vrugte; hulle vereis baie kompos en nog meer water; hulle is gevoelig vir vrugtevlieg, sonskade en witroes; op iemand se werf het werfhoenders koning gekraai en die plante verniel; die regte hoeveelheid sonlig is nodig, asook skadunet teen die somerhitte; en almal het gelees dat Heidelberg se kampioenpampoenboer selfs ’n kombers vir koue nagte aanbeveel.

Net toe die dorp se pampoenkwekers besluit plaaseienaars het ’n beter kans om groot pampoene te kweek, laat weet iemand haar pampoene het niks van hul plaas se brakwater gehou nie.

“Ons het opleiding nodig vir Seisoen 2”, sê iemand op die WhatsApp-groep, en voorstelle van “sing vir jou plant” word begroet met “dit sal niks help nie; ek sing vals”. Dan volg idees vir ’n pampoen-ete: Pampoensop, pampoenbredie en -koekies, -tert en ook ’n knertsie pampoen-mampoer.

Toe die deelnemers foto’s en die gewig van die grootste pampoene begin plaas, was dit asof ’n kat in die duiwehok losgelaat is, want die foto’s wys verskillende pampoenvorms: Twee Malmesbury-boere se pampoene is langwerpig en weeg onderskeidelik 25 kg en 19,5 kg.

Ander foto’s wys pampoene in ander skakerings van geel. Hul vorm is ronder en hulle weeg aansienlik meer: 32 kg en 35 kg (in Malmesbury-dorp gekweek), asook die 44,9 kg van Janus le Roux op Rooidraai buite Malmesbury.

Janus beoog om die pampoen vir ’n welsynsinstansie te skenk nadat “almal op die plaas” oor die Desembervakansie na die pampoenplant help omsien het.

Foto’s van ’n plaas 130 km buite Kakamas wys ronder, geler pampoene op ’n kruiwa; die swaarste een weeg 45 kg. Dié boer se seun van Malmesbury het die Goliat van Gat-pitte aangestuur.

“Ongelukkig smaak dié pampoene nie lekker nie – nie eens die beeste op die plaas stel belang nie,” lui die terugvoer.

Wat sê die veearts wat hierdie nuwe ding op Malmesbury begin het? Dr. Andries Groenewald glimlag van oor tot oor. “Laasjaar in Oktober het die skade en hartseer van Covid-19 nog swaar oor Malmesbury gehang. My doel met die Goliat van Gat-projek was om gemoedere te lig; om die aandag vir ’n rukkie weg te trek van al die swaar en hartseer. Dit lyk of ek wel in hierdie doel geslaag het!”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.