Smaakfees van waterblommetjies en wyn

Die sewende Waterblommetjiefees aangebied deur Windmeul Kelder en Rhebokskloof Landgoed in die Paarl is vanjaar op Saterdag 5 September en een van die hooftemas is wynpasmaats vir waterblommetjie-geregte. Windmeul Kelder beoog om vanjaar feesgangers alternatiewe maniere te wys om waterblommetjies voor te berei, buiten die gewone waterblommetjie-bredie. Die Waterblommetjie Potjiekoskompetisie vind weer by Windmeul plaas…


Windmeul en Rhebokskloof se wynmakers, Abraham van Heerden en Rolanie Lotz is kniediep in die waterblommetjiesdam.

Die sewende Waterblommetjiefees aangebied deur Windmeul Kelder en Rhebokskloof Landgoed in die Paarl is vanjaar op Saterdag 5 September en een van die hooftemas is wynpasmaats vir waterblommetjie-geregte.

Windmeul Kelder beoog om vanjaar feesgangers alternatiewe maniere te wys om waterblommetjies voor te berei, buiten die gewone waterblommetjie-bredie. Die Waterblommetjie Potjiekoskompetisie vind weer by Windmeul plaas en die wenners word aangekondig nadat die beoordelaars deeglik geproe het.

Vermaak by Windmeul sluit in musiek deur Karin K en Mello andamp; Jive. Daar sal ook kindervermaak wees. Vir die fikse mense word daar ook ’n 5 km/10 km pretdraf vanaf die Windmeul-kelder gehou, gereël deur Run The Vines.

Die Waterblommetjiefees val ook saam met Windmeul se maandelikse plaasmark en die dag kan dus afgeskop word met ’n plaasontbyt en afgesluit word met ’n glas wyn in die een hand en ’n Waterblommetjie-gereg in die ander.

By Rhebokskloof is een van die hoogtepunte die immergewilde Mej. Waterblommetjie-kompetisie. Mej. Waterblommetjie 2015 is oop vir meisies van 4 tot 6 jaar oud.

Vir meer inligting kontak Lillian Jonker by sel. 082 953 5825 of e-pos lillianjonker@gmail.com. Die inskrywingsvorm is ook beskikbaar op http://www.rhebokskloof.co.za/#/events.

Die ander hoogtepunt by Rhebokskloof is die deli-tafels waar die waterblommetjie-kookkuns jaarliks oortref word. Hul sjef se kreatiewe geregte wissel van waterblommetjie-pizzas, -pasteie, -bredies, -mousse, -roomys en nog. Kookdemonstrasies word ook aangebied. Oesters en Rhebokskloof Methode Cap Classique vorm deel van die dag se hoogtepunte, en vanjaar is daar ’n opelug kroeg-area met die bekende Shiraz ‘on tap’.

Rhebokskloof se program sluit in ’n optrede deur die Tequila musiekgroep, kinderaktiwiteite, speletjies, ponieritte, springkastele en die Waterblommetjie- sportuitdaging. Vars delikatesse sal ook beskikbaar wees om die dag af te rond

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.