Sluit jou motor twee keer

’n Inwoner van Malmesbury het die afgelope week ’n waarskuwing via sosiale media aan voornemende klante van ’n gewilde winkelsentrum gerig nadat haar motor vanself “oopgesluit” het nadat sy dit met haar afstandbeheerder wel toegesluit het.


’n Inwoner van Malmesbury het die afgelope week ’n waarskuwing via sosiale media aan voornemende klante van ’n gewilde winkelsentrum gerig nadat haar motor vanself “oopgesluit” het nadat sy dit met haar afstandbeheerder wel toegesluit het.

Dianne Smith, wat naby die ingang van ’n supermarkkettinggroep gestop het, vermoed booswigte skuil in die omgewing wat motors se sluitingsmeganismes met hul eie apparaat fnuik en voorkom dat die voertuig wel suksesvol sluit.

Die voorval is onmiddellik onder ’n sekuriteitswag teenwoordig se aandag gebring voordat sy haar voertuig na ’n ander deel van die parkeerterrein geneem het. Daar het sy haar motor sonder voorval gesluit.

Die waarskuwing het hewige reaksie op sosiale media ontlok waar sommige inwoners hul eie soortgelyke ervaring by die winkelsentrum gedeel het. Ander inwoners was op hul beurt baie dankbaar vir die waarskuwing wat gelei het tot daadwerklike reaksie deur klante wat daarna dubbel seker gemaak het hul motors is wel gesluit.

Sers. Henry du Randt, ’n polisiewoordvoerder, het gesê hulle is nie van die voorval bewus nie. “Die polisie sal met die sekuriteit en ander rolspelers betrokke by die winkelsentrum in aanraking kom,” het Du Randt bygevoeg.

Smith sê sy is dankbaar dat die gemeenskap haar plasing raakgesien het. “Ons moet almal saamstaan teen misdaad.”

’n Navraag oor of die winkelsentrum van die voorval bewus is, is deur die Gazette aan die winkelsentrumbestuur gestuur. Daar word nog op terugvoering gewag.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.