Drie Swartlanders het Vrydagaand skoonskip gemaak as aandwenners tydens Via se vasvra-televisieprogram Slim vang sy Baas. Furlo Theron en Divann en Heinrich Robertson, almal vriende sedert hul kaalvoetdae in Abbotsdale, het Vrydag onder die naam Grace aan hierdie Via-program deelgeneem.
Grace verwys na die klerereeks Grace Adapted Clothes and Aid, waarvan Furlo en sy arbeidsterapeut Hilletje Wiehahn vennote is.
Furlo se betrokkenheid by die klerereeks vir gestremdes spruit uit ’n rugbyongeluk in 2016, waarna Furlo (toe 30) van sy borskas af verlam is. Hy het danksy fisio- en arbeidsterapie gedeeltelike gebruik van sy arms en hande herwin. Deesdae maak dié 35-jarige die beste van elke situasie, vandaar sy deelname aan die TV-program.
“Kyknet en Via se mense het uit hul pad gegaan om Furlo te akkommodeer. Hulle het selfs ’n spesiale verhoog gebou waarop sy stoel kon staan,” vertel Heinrich. “Maar Furlo kon steeds nie maklik by die knoppie (buzzer) uitkom nie. Daarom reël ons toe dat Furlo vir antwoorde wat hy ken, aan my stamp, sodat ek dan vinnig die knoppie druk. Ons kon doen wat ons wou, maar die breukdeel van ’n sekonde wat ’n mens só verloor, het ons amper die kompetisie gekos.”
“Toe ons in die eerste ronde agterraak, was ons benoud,” vertel Furlo. “Al ken ek die antwoorde, druk ons elke keer die knoppie te laat. In die tweede afdeling moes ek ’n menéér van ’n poging aanwend om self by die knoppie uit te kom!”
Uiteindelik het die span van Grace gewen.
Vir die Robertson-broers is dit inspirerend dat Furlo steeds items op sy lewenswenslysie (bucketlist) afmerk. “Sy lewe het nie gaan stilstaan nadat hy verlam geraak het nie; kyk net wat kry hy gedoen!”
Furlo sê hy waardeer sy goeie vriende se ondersteuning, maar hy wonder dikwels of hulle hom so graag rondkarwei uit omgee of omdat hulle eerder op die staanplekke vir gestremdes kan parkeer! Furlo se goeie humorsin is juis te sien in die slagspreuke op die hemde van sy klerereeks. Hulle het Vrydagaand deelgeneem in hemde van Grace Adapted Clothes and Aid.
Waar kom Furlo se wye algemene kennis vandaan? “Ek kyk baie nuus, TV en vasvra-programme, en met my geheue skort net mooi niks.”
Sy ouma Glenda Theron het hom kleintyd al ’n voorliefde vir nuwe feite en Engels gegee. “Sy het graag die Chappies-papiertjies se feite gelees en ek moes dit probeer onthou; sy het ’n vasvra gehou en my uitgevra!”
Op 94 woon Ouma Glenda steeds naby Furlo. . Loer gerus na www.clothesandaidfordisabled.com vir meer inligting oor die klerereeks.