Die Langeberg-munisipaliteit se inwoners is gewaarsku om versigtig te wees vir ’n nuwe bedrogspul wat kop uitsteek in die gebied rakende poste beskikbaar by die munisipaliteit.
Die munisipaliteit doen ’n beroep op die publiek om bewus en waaksaam te wees van ’n werkbedrogspul.
“Die swendelaars beweer hulle kan mense permanente werk by Langeberg-munisipaliteit verseker in ruil vir ’n betaling.”
Volgens die munisipaliteit moet die publiek nie reageer op die aanbiedinge van indiensneming van die mense wat beweer dat hulle vir, of geassosieer word met, Langeberg-munisipaliteit nie.
“Geen werknemer of politikus wat by ons munisipaliteit aangestel is, mag geld vra in ruil vir werk nie. Langeberg-munisipaliteit adverteer slegs vakatures vir poste of internskapprogramme in plaaslike koerante, die munisipale webwerf en ons amptelike sosialemediaplatforms,” waarsku die munisipaliteit.
Die Robertson-polisie is bewus van en ondersoek tans die bedrogspul.
“Mense wat reeds geld aan die swendelaars betaal het, word aangemoedig om die saak by hul naaste polisiekantoor aan te meld,” sê die munisipaliteit.