‘Slaan die ledigheid hok!’

“Jy hoef nie net die dae om te sit in afwagting vir wanneer jy finaal jou ogies toemaak nie.”.


“Jy hoef nie net die dae om te sit in afwagting vir wanneer jy finaal jou ogies toemaak nie.”

Só glo ’n pensioentrekker van Strand, wat houthuis-beeldjies ontwerp en bou om aan die gang te bly.

Benewens die eindelose genot wat Heinrich Teitge uit dié tydverdryf put, gee dit hom ook ’n besonderse rustigheid en bevredigende gevoel wanneer hy as ware vakman ure aan die handewerk afstaan en sy kreatiwiteit só ontsluit.

Op ’n vraag wat dié stokperdjie geïnspireer het, sê die 68-jarige beeldhouer dis sy passie vir kunswerke wat hy al van kleins af uitleef.

En hoekom juis houtbeeldjies, wonder jy?

Ja, Heinrich is natuurlik goed met sy hande, maar hy reken egter dis die plesier om met ’n materiaal so suiwer en skoon soos hout te kan werk, asook die besonderse reuk wat op ’n mens se sintuie inwerk.

Die trotse beeldhouer spog nie net met sowat 16 houthuisies nie, maar verskeie meesterstukke waaronder treintjies, vliegtuie en vragmotors.

Volgens Heinrich is sy houthuisies op ’n skaal van so 1:48 en behels die proses beplanning en sny- en skuurwerk voordat dit geverf word.

“Die huisies bestaan uit 85 persent hout. Dan gebruik ek kunsgras, sand, klip, spons en vilt om dit meer realisties te maak,” vertel hy.

Hy verduidelik voorts die hoeveelheid tyd wat dié houtwerk in beslag neem, hang af van elke produk se grootte en unieke afrondingswerk, wat tot twee weke kan duur.

’n Meesterstuk wat vir hom veral besonders is en hom na aan die hart lê, is ’n verwaarloosde plaastoneel wat hy geskep het.

Heinrich het voor sy aftrede in April 2008 vir ’n kantoormeubelfabriek gewerk en geniet sy goue jare saam met sy vrou, wat ook afgetree is. Hulle woon sedert sy aftrede by hul oudste seun, en as hy nie by takies aangaande die kleinkinders ingespan word nie, gaan stap hy by die see of fokus op sy beeldhoukuns.

Hy bemoedig ander pensioentrekkers, wat dikwels ingee tot die ledigheid wat gewoonlik met aftrede gepaardgaan, met hierdie boodskap: “Begin gerus met ’n stokperdjie. Dit hou jou besig, hou jou brein aan die gang en is iets om na uit te sien. Dis nie goed om net te sit en niks te doen nie. Slaan die ledigheid hok!”. Enige bejaardes wat in beeldhoukuns belangstel, kan gerus kontak met Heinrich, wat bereid is om tyd af te staan en werksessies aan belangstellendes te bied. Hy kan by 072 696 4510 gekontak word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.