Skote het in die huis geklap.
Volgens ’n pa en seun van Darling het twee mans verlede Maandag om 21:30 by hul huis ingekom en op hulle begin skiet.
Sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, sê die pa en seun het die skieters daarna agternagesit en daarin geslaag om die vuurwapen by hulle af te neem.
Die vuurwapen is aan die Darling-polisie oorhandig.
Filander sê dié bendeverwante voorval het op 18 April by ’n huis in Akkerboomlaan plaasgevind.
Vier ooggetuies het intussen bevestig wat gebeur het en twee verdagtes, wat ook van Darling is, is sedertdien in hegtenis geneem. Hulle verskyn vandeesweek in die hof.
Die vuurwapen wat die skieters afgevuur het, se reeksnommer is verwyder, wat daarop dui dat die vuurwapen onwettig is of heel waarskynlik gesteel is.
Filander sê die polisie het die afgelope paar weke baie suksesse gehad om beslag te lê op verskeie onwettige vuurwapens wat in verskillende skietvoorvalle en klagtes van poging tot moord gebruik is.