Skool pak nuwe sportsoorte

Die sportsterre van die Laerskool Watsonia in Scottsdene is sportlui met wie rekening gehou moet word.


Die sportsterre van die Laerskool Watsonia in Scottsdene is sportlui met wie rekening gehou moet word.

Nie net het die skool ses atlete vir die Westelike Provinsie opgelewer nie, maar een het ook Wes-Kaap-kleure ontvang.

Almal ken vir Henry Adams, onderwyser by die skool, as ’n rugbyafrigter van formaat en ook rugby-assessor van wêreldrugby, waar hy toekomstige afrigters by klubs en skole oplei om hul vlak 1- tot 3-afrigterskwalifikasie te bekom.

“Die afgelope vier jaar is ek weer terug by die skool en soos jy weet is die skool in ’n gebied wat aan al die euwels van die samelewing blootgestel word. Ek het besluit om nie net die gewone sportsoorte by die skool te begin nie, maar is baie trots om te kan sê die boogskutters en stap, soos bekend gemaak deur Okkie van Sensie, het nuwe wêrelde vir die leerders oopgemaak,” sê Adams.

Hy is een van drie onderwysers wat sport by die skool afrig. Cleone Goliath is die sportkoördineerder en ook verantwoordelik vir atletiek.

Volgens Goliath het 11 atlete van die skool die Metro-Oos-onderwysdistrik by die jaarlikse WP-Atletiekkampioenskap in die Dal Josaphat-stadion in die Paarl in Februarie verteenwoordig.

“Dit was die skool se grootste span atlete wat tot op hede deurgedring het. Uit die 11 het ses uitgeblink en WP-kleure ontvang. Hulle is Yolandi Witbooi (meisies o.12 1 200 m), Christehano Syster (seuns o.12 spiesgooi), Elizabeth Papier (meisies o.13 1 500 m stap), Jeraldo Laminie (seuns o.13 1 500 m stap), Brogan Snyers (seuns o.13 1 500 m stap) en Dimakatso Malete (seuns o.13 stap). Hulle het op 6 Maart aan die Wes-Kaapse atletiekkampioenskap in die Dal Josaphat-stadion deelgeneem. Jeraldo het in sy item sy Wes-Kaap-kleure ontvang. Hy en die res van die stapspan is toe op 19 Maart by die Laerskool Courtrai in die Paarl die eerste keer vereer by ’n pette-seremonie, die eerste in die geskiedenis van Wes-Kaapse laerskole-atletiek.

Danksy borgskappe en die Wes-Kaapse onderwysdepartement kon hy aan die Nasionale Laerskole-atletiekkampioenskap in die Limpopo-Universiteit se stadion gaan deelneem,” sê sy.

Adams sê hy moes self die tegniek van stap gaan leer voordat hy dit by die skool kon toepas.

“Die stappery het vir baie komiese oomblikke gesorg, want jy moes leer hoe om jou heupe te swaai en jou voete te gebruik om alles onder die knie te kry. Gelukkig het die stappers die tegniek gou reggekry en spog die skool met ’n kampioen,” skerts hy.

Adams sê boogskiet was ’n nuutjie en om die boog en pyle te bekom, was ’n aardige bedraggie, maar hulle is ook deur borge bygestaan.

“Die skool se boogskutters is nou al konfyt en hanteer die boog met gemak,” sê Adams.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.