Skeidsregter van 2021

Woensdag op Boland Park, toe Suid-Afrika en Indië hul eerste eendagkrieketwedstryd in Paarl gespeel het, was dit ook Marais Erasmus van Malmesbury se 100ste keer as skeidsregter in ’n internasionale eendagwedstryd – ’n mylpaal waarvoor die Internasio


Woensdag op Boland Park, toe Suid-Afrika en Indië hul eerste eendagkrieketwedstryd in Paarl gespeel het, was dit ook Marais Erasmus van Malmesbury se 100ste keer as skeidsregter in ’n internasionale eendagwedstryd – ’n mylpaal waarvoor die Internasionale Krieketraad (IKR) hom Woensdag geloof het.

Erasmus is slegs die derde Suid-Afrikaanse skeidsregter wat hierdie 100-tal kon bereik, met Rudi Koertzen (209) en David Orchard (107) sy voorgangers.

“ ’n Honderdste eendagwedstryd is ’n groot voorreg,” het Erasmus (57) Saterdag uit sy Kaapse hotelkamer gesê. “Ek ken goeie internasionaal-erkende skeidsregters wat ’n voortand hiervoor sou gee. Daar is soms faktore wat veroorsaak dat skeidsregters nie so lank in hierdie beroep bly nie en dus nie maklik só mylpaal behaal nie.”

Gelukwense hiervoor het nog ingestroom toe die IKR Erasmus Vrydag laat weet: ‘Geluk; jy is die IKR se beste skeidsregter vir 2021.’

Dit beteken Erasmus ontvang die derde keer die David Shepherd-trofee nadat hy ook in 2016 en 2017 as die wêreld se beste krieketskeidsregter aangewys is. Sy 2021-beslissingsgemiddeld was 97%.

Hierdie erkenning kon nie op ’n beter tyd kom nie: Erasmus was Vrydag reeds 40 dae in ’n krieketborrel nadat die eerste Indië-wedstryd op 26 Desember begin het.

“In die dae voor Covid het ons vier dae voor die eerste reekswedstryd bymekaargekom, maar deesdae moet ons nog 15 dae vroeër ’n krieketborrel vorm. Sondag (eergister) met die laaste eendagwedstyd op Nuweland, was dit ons 42ste dag van groep-afsondering.”

Hoe het Covid-19 en die inperkings sy loopbaan beïnvloed? “Dit het skeidsregtersgeleenthede en -inkomste drasties verminder. In plaas van die gewone 65 werksdae per jaar, het ek in 2020 vir 18 dae gestaan. In 2021 was dit darem 50 dae.”

“As die November-reeks tussen Suid-Afrika en Nederland nie weens omnikron afgestel is nie, sou ek reeds November die 100ste eendagwedstryd gestaan het!”

Oor tegnologie wat deesdae heeltemal anders lyk as 14 jaar gelede, sê Erasmus: “Ek is ’n voorstander van tegnologiese hulpmiddels. Dis só goed, dit wys die kleinste foutjie uit en voorkom ’n verkeerde wedstryduitslag. Hawkeye het ons geleer die bal hop veel hoër as wat ons geglo het.”

Erasmus en sy vrou, Adele, was onderwysers aan Laerskool Swartland op Malmesbury toe hy in 2007 die onderwys vir ’n beroep as internasionale skeidsregter verruil het.

Hy het sedertdien die witjas vir 102 eendagwedstryde gedra, asook 70 toetse, 35 internasionale 20/20- en 18 vroue-20/20-kragmetings. Hy is deel van die IKR Elitepaneel en word allerweë beskou as een van wêreldkrieket se bestes.

Die egpaar het tweelingseuns, Chris en Geo.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.