Skeepsreg vir Ashton

Nadat die Ashton United-rugbyspan sy eerste twee vriendskaplike wedstryde verloor het, was dit Saterdag 26 Februarie, die derde wedstryd, skeepsreg vir hom toe hy die Kaapse rugbyspan, Macassar RFC, op die Kogmanskloof sportgronde op Ashton teen die


Nadat die Ashton United-rugbyspan sy eerste twee vriendskaplike wedstryde verloor het, was dit Saterdag 26 Februarie, die derde wedstryd, skeepsreg vir hom toe hy die Kaapse rugbyspan, Macassar RFC, op die Kogmanskloof sportgronde op Ashton teen die verwagting in met 28-14 geklop het.

Ashton, wat tans ’n jong onervare span het, is besig met ’n spanbou-proses.

Die span het vroeër vandeesmaand eers teen Safcol van Grabouw op Neverloose Park, (sy tuisveld) die onderspit gedelf (19-7) en daarna het Rangers van Bredasdorp hom ook met die kous oor die kop huistoe gestuur (29-15).

Die afgelope Saterdag moes Ashton weer eens diep delf en al sy beskikbare energiebronne ledig om die besoekers wat onder die vaandel van die Westelike Provinsie-rugbyunie sy rugby speel, in ’n klipharde wedstryd tot oorgawe te dwing.

Die spanne het mekaar in die eerste helfte goed in toom gehou en deurkomkans was maar min. Albei spanne kon in dié tyd slegs een keer agter mekaar sy doellyn gaan kuier.

Ashton het eerste punte op die telbord gehad toe sy linkervleuel, Zinzaan Williams gaan druk het. Die doelskop deur Lorenzo De Wee, losskakel, was in die kol en dit het die tuisspan met 7-0 laat voorloop.

Die meer gedugte Kaapse span het egter nie gras onder sy voete laat groei nie en het teruggeslaan met ’n drie deur sy skrumskakel, Jovaan Cooksen, wat deur Garth de Bruyn, losskakel verdoel is om sake weer gelyk te maak, sewe punte elk.

Toe die spanne kante ruil, was die telling steeds 7-7.

Ná rustyd het die tuisspan weer die voortou geneem toe Isreal Opperman, heelagter, met ’n vyfpunter afrond en De Wee twee punte met ’n suksesvolle doelskop byvoeg, wat die telling laat groei het na 14-7.

Die besoekers het nie op hul louere gerus nie. Hulle antwoord met ’n drie deur De Bruyn wat hy self verdoel en wis sodoende die agterstand weer uit om die telling weer gelyk te laat trek, 14-14.

Vir ’n ruk lank wissel die spel van die een 22-gebied na die ander sonder dat ’n doellyn oorgesteek word.

Toe word ’n strafskop binne trefafstand van die doelpale aan Ashton toegeken ná ’n oortreding deur Macassar. Die skare raai hul span luidkeels aan om eerder pale toe te skop vir ’n maklike drie punte in die sakkie.

Die klomp jong avontuurlustige spelers van die tuisspan lê egter waagmoed aan die dag en besluit om die kantlyn op te soek in plaas van pale toe te skop. Met die daaropvolgende lynstaan kry Ashton die bal terug en begin ’n dryfmaalbeweging meters van die besoekers se doellyn af. Die besoekers spook om die beweging te stuit, maar slaag nie daarin nie.

Uiteindelik word die spelers se selfvertroue en hul waagmoed beloon toe Shaandre Rank, agsteman van die tuisspan oorval vir sy span se derde drie. De Wee is weer in die kol met die doelskop en die telling word 21-14 vir Ashton.

Die tuisspan is hierna vasberade om nie die wedstryd deur hul vingers te laat glip nie en smoor elke beweging wat die besoekers probeer, in die kiem.

Ashton teken sy vierde drie aan toe Kurwin Cupido, die plaasvervanger vleuel, ’n bal opvolg wat deur geskop is. Hy skop die bal verder tot in Macassar se doelgebied, waar hy dit onder beheer kry en ’n prag-drie druk.

De Wee, wat beslis sy skopskoene veld toe gebring het, tref weer die kol met die doelskop om die wedstryd 28-14 in die tuisspan se guns te beklink.

– Inligtingsbron: Franco Caleb Chayim du Toit

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.